ToekomsVenster: Magnetisme

noorder-ligte-aurora

Die Aurora Borealis of Noorderligte. (Foto: Hans/Pixabay)

“Waarom is daar nie ʼn einde aan my pyn nie, waarom is my wond ongeneeslik en wil dit nie gesond word nie? Ek kan nie op U reken nie, net so min as op ʼn stroom wat nie standhoudend is nie.” – Jeremia 15:18

My bed is ʼn magneet en my voete is van lood.

Ek het ʼn vriend wat vir die afgelope paar weke nie gesond voel nie. Miskien vanweë die feit dat hy soos so baie ander die kers aan twee kante brand het sy gestel kennis gegee. In omgangstaal word daarna as “uitbranding” verwys.

Ek het dit ook al ʼn paar keer aan eie lyf gevoel en dit is ʼn baie onaangename ervaring. Die sin van alles bly jou ontwyk, angsaanvalle laat jou in vrees leef, jy bevraagteken jou eie vermoë, jy voel soos ʼn las en wil soos die Psalmdigter van die woestyn vlug.

Daar is trouens baie mense wat met hierdie scenario kan identifiseer.

As jy een van die bevoorregtes is wat die woord “depressie” nie persoonlik ken en ervaar nie, moet jy die Here dank. Bly tog weg van die spreekwoordelike “ruk jou reg” en “tel jou seëninge”. In hierdie konteks dra dit net by tot die reeds oorverdowende ongemak wat die persoon voel. Dit is veel eerder om te vra hoe jy kan help, te sê dat jy bereid is om te luister en dat jy ware geduldige vriendskap aanbied.

Met tyd, dikwels ook met terapie en medikasie, lig die wolk en sien ʼn mens weer kans vir die lewe.

Met besoek aan my vriend nou die dag gebruik hy die frase: “my bed is ʼn magneet en my voete is van lood”.

Dit is ʼn raak beskrywing vir die pyn wat so ʼn persoon beleef. Jy wil net slaap en vergeet.

Jy is te moeg om op te staan. Die kleinste verantwoordelikheid staan soos ʼn berg voor jou.

Net dalk is dit jou konteks vandag. Elia moes iets daarvan beleef het toe hy die kloue van die bose Isebel probeer ontwyk het. Interessant hoe die Here Elia tegemoet tree. Gesonde voedsel en baie rus met verdrag. Met Geduld. Met gebed.

“Maar die Here sê vir hom: ‘Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.’ Skielik was daar ʼn baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar ʼn aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie.

Na die aardbewing was daar ʼn vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ʼn fluistering in die windstilte.” − 1 Konings 19:11 (AFR83)

Jy het nie die pad byster geraak, die geloof afgesweer, in jou toewyding verslap nie. Die Here is ook nie weg nie, het jou nie verlaat nie, is nog net so lief vir jou en SAL jou hierdeur dra.

Daar kom ʼn dag wat jy gaan opstaan. As daardie dag kom, staan dan op.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.