ToekomsVenster: Met dankbaarheid

(Foto: Joshua Reddekopp/Unsplash)

Groen is die land van Natal

Wyd lê die velde omheen

Wolke seil hoog in die blou hemelboog

En ʼn arend vlieg na die son…

Lirieke deur Anton de Waal, verwerk deur Dirkie de Villiers.

Ek het gedink dit was Ben E Madison wat die lied bekend gemaak het, maar onthou nou hy was bekend vir “Groen koringlande”, nie waar nie?

Daarmee het ek my ouderdom verklap en jy is reg, die groot “sewe” het aangebreek.

Soos gister gesê kuier ons ʼn bietjie in die pragtige KwaZulu-Natal en alles is lowergroen. Ek dink nie Natal ken ʼn ander kleur as groen nie.

Die groot verskeidenheid plantegroei, met langstam palms wat in die wind waai, is kenmerkend van die omgewing.

Ek vra stellig vir my ander helfte of die mense wat hier woon dalk gewoond is aan die lowergroen omgewing, soveel so dat hulle dit nie meer raaksien of waardeer nie. Gewoon gewoond geraak en dit as ʼn vanselfsprekendheid aanvaar.

Ons loop die gevaar om sommige goed as vanselfsprekend te aanvaar.

Die mense wat deel van jou verwysingsraamwerk verwys; wanneer laas het jy die Here gedank vir die voorreg om elkeen te ken?

Die goed wat die Here aan jou toevertrou het; wanneer laas het jy in verwondering gestaan vir sy genade en sorg?

Die voorreg van kultuurgoedere eie aan jou mense; wanneer laas het jy die Here gedank vir mense met wie jy gemaklik identifiseer?

So kan ʼn mens voortborduur, die baie dinge wat gewoon as vanselfsprekend aanvaar word.

Laat my toe om nog twee sake te noem.

Jou gesondheid om mee af te skop; wanneer laas het jy die gawe van beweeglikheid, dankbaar gevier?

Mag ek ook vra oor geloof in die drie-enige God, die gawe van die Bybel in ons eie taal, die betrokkenheid van die Heilige Gees in ons lewens, om deel te wees van ʼn geloofsgemeenskap en kerkverband, die vryheid om jou godsdiens te beoefen, die Persoon van Jesus en wat Hy namens en vir jou gedoen het – is jy steeds verwonderd daaroor, of het jy dit dalk gewoond geraak?

Mag die grootsheid van God se genade wat prakties op soveel maniere in jou en my lewe uitspeel ons altyd, weer en weer, sprakeloos laat.

Dankie Here, dankie met my hele hart.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.