ToekomsVenster: My God sal my laat slaag

(Foto: Anaya Katlego/Unsplash)

Ek het hulle geantwoord en vir hulle gesê: “Die God van die hemel sal ons laat slaag in wat ons doen. Ons, sy dienaars, gaan bou”. – Nehemia 2:20

Toe Nehemia die roeping ontvang om die mure van Jerusalem te gaan herbou – mure wat vir bykans 150 jaar verwoes en verlate lê – was daar verskeie uitdagings wat hy in die oë moet staar.

Om te begin was hy ver verwyder van Juda. Hy bevind hom in Persië en is die koning se wynskinker. Sy invloed is beperk, sy posisie as wynskinker baie sensitief,  bronne bestaan effektief nie, om maar ʼn paar te noem.

Tog weet hy dat God hom roep. Wanneer Hy uiteindelik in Jerusalem aankom en stelselmatig met die bouwerk besig raak is daar weerstand op weerstand, soveel so dat bouers gewapen hul taak moet verrig.

Te midde van dit alles word die werk voltooi en God se saak gedien.

Die dinge waarmee die Here ons wil vertrou is dikwels ver verwyder van wat ons natuurlikerwys kan vermag.

Uiteraard kan ons in eie krag net mooi niks doen nie; elke asemteug is ʼn genadegawe maar terwille van die gesprek, die roeping wat in jou hart leef en die kapasiteit wat jy het om die taak mee te verrig, verskil hemelsbreed. Kortpad is om te redeneer dat jy die Here verkeerd verstaan het en dat iemand anders maar moet gaan doen wat gedoen moet word.

Die ander moontlikheid is om sommer gou-gou handdoek in te gooi, doodgewoon omdat die taak so enorm en jou bronne so beperk is.

Uiteraard is daar verskeie moontlikhede wat jou sal help om self geregverdig van die opdrag, die taak en die roeping wat die Here jou op die hart gedruk het, weg te stap.

Vriende, familie, kennisse en selfs geloofsgenote sal jou verder ontmoedig deur onvriendelike opmerkings en ʼn geskinder agter toe deure.

Wie sy ore aan sulke geskinder oorgee hou nie lank nie. Dit is net ʼn kwessie van tyd.

Opgee en ingee en toegee dwing geen bewondering af nie. Die wêreld is vol van mense wat op die wyse opgetree het. Die man wat egter soos Nehemia redeneer – “my God sal my laat slaag” – sal op koers bly met so ʼn belydenis en ingesteldheid, en sal die wenstreep bereik.

Dit was van Nehemia waar, dit was van tientalle Bybel-figure waar. Die geskiedenis vertel ons van sulke mense. Daar is voorbeelde, doen en bely soos hulle: “Die God van die hemel sal my laat slaag in wat ek moet doen”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.