ToekomsVenster: ’n Jaar van verwagting

Foto: Jeremy Bishop/Unsplash.com

God wat vrede gee, sal die Satan spoedig onder julle voete verpletter. Die genade van ons Here Jesus is by julle! – Romeine 16:20

“Welkom in die huis van 2020 met verwagting”  is die opskrif van ʼn rubriek in ʼn bekende oggendkoerant. Die skrywer, ene Este Gross, vergelyk die nuwe jaar met ʼn ruim herehuis.

Suid-Afrikaners woon daarbinne. Hulle almal in een huis. Die huis ruik na verf en opknappings is klaarblyklik gedoen. Op die yskas is ʼn indrukwekkende doen lysie vasgeplak. Dan vertel sy van die verskillende vertrekke daar, kamers is die woord wat sy gebruik. In die sitkamers storm politici voort.

Sonder dat sy dit skryf verbeel ek my dat daar ʼn groot verskeidenheid aktiwiteite in die verskeie vertrekke is. Hoe dit ook al sy, die huis is ʼn huis van belofte. Die vloer is gepoleer en almal is na die bal genooi. Immers, enige iets kan in ʼn skrikkeljaar gebeur.

Dit is ʼn gepaste metafoor ons die Suid-Afrikaanse konteks mee te skilder. Ons het, so dink ek trouens, net een gemeenskaplike huis. Dit staan trots en sterk en het reeds verskeie aanslae oorleef. Dit is die veerkragtigheid van die inwoners en hul beslistheid om nie op te gee nie wat die deurslag gee.

Hulle leef van uit die belofte.

Al word die regverdige deur hoeveel rampe getref die Here help hom uit almal. (Ps.34:20)

Agter die inwoners van die huis lê ʼn geskiedenis, nog vlak en met aanduidings dat die huis genoegsame rede had om algeheel in mekaar te stort. Godsgenade dat dit nie gebeur het nie want, daar is regverdiges daarbinne en terwille van hulle, sal God die huis spaar.

Gen.18: 32 – Toe sê Abraham: “Moet tog nie kwaad word nie, Here! Ek wil nog net een keer praat; miskien word daar tien gekry.” En die Here sê: “Ook oor tien sal Ek dit nie verdelg nie.”

Die mense wat in die huis bly, leef met verwagting. Die moue is opgerol en die oorpak aangetrek want, daar is werk om te doen.

Elkeen doen dit soos die Here hom dit opgedra het leer die teks in Korintiërs ons.

1 Korintiërs 3:5 – Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het.

Ons is nie almal dieselfde nie, maar ons begeer dieselfde. Vrede, rus, voorspoed, gesondheid, kanse, geleenthede, vir almal vir wie God gemaak het.

Mag 2020 die jaar van verwagting wees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.