ToekomsVenster: ’n Lewe onder inspirasie van die Heilige Gees

(Foto: Stephan Hauman)

Dit is weer naweek en sjoe, dis so welkom. Die meeste van ons se dae is redelik besig en vol. Twee vrae waaroor ek tans wonder is, gaan die dae vinniger verby namate ʼn mens ouer word? En, gaan die weke vinniger verby namate die einde van die jaar nadere kom? Ja selfs, gaan tyd vinniger verby namate die einde nader kom? Ja, dis sommer subjektiewe opmerkings, maar baie sal met my saamstem.

Tyd is so ʼn kosbare kommoditeit en kan nie vermeerder of verminder word nie. Wat gegee word, is wat ons het en waarmee ons moet werk. Die Bybel maan ons om ons dae meer verantwoordelikheid aan te wend.

“Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom.” – Psalms 90:12 (AFR83)

Dit is ʼn fyn kuns om balans te vind in die lewe. Die lewe bestaan nie net uit werk nie, dit bestaan eweneens nie net uit rus nie. Beide is belangrik en na albei kante kry ʼn mens eksponente wat van die een of ander ʼn fyn kuns gemaak het.

Sommige mense kan nie ophou werk nie. Die hele lewe bestaan uit werk, besig wees en inhoud gee aan elke oomblik. Dis verdienstelik en word deur baie mense bewonder. ʼn Mens sou kon vra waarom werk so ʼn belangrike deel van so ʼn persoon se lewe inneem?

Miskien probeer hy of sy kompenseer vir mense wat nie hulle deel doen nie. Miskien wil hulle net nie met hul eie spookgedagtes gekonfronteer word nie.

Dit is dalk iets wat ek vir myself moet uitmaak, siende dat ek self ietwat van ʼn werkolis is!

Dan weer is daar mense wat met berekende traagheid die lewe aandurf. Jy kry hulle net nie aan die gang nie, maak nie saak hoe hard jy probeer nie. Uiteraard moet ʼn mens dalk ook vra waaraan die traagheid toe te skryf is. Die Bybel sê:

“Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom.” – Spreuke 6:6 (AFR83)

Die oplossing lê seker in ʼn lewe onder leiding en inspirasie van die Heilige Gees.

Mag Hy beheer kry in ons lewens.

Speel en werk, rus en arbeid, ontspanning en skouer aan die wiel sit; die speserye van die lewe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.