ToekomsVenster: ’n Lig vir ander

(Foto: Marcus Woodbridge/Unsplash)

“Hoekom? Julle moet dit doen omdat julle die gewyde volk van julle God die Here is. Dit is vir júlle wat julle God die Here gekies het uit die al die volke op die aarde, Hy het júlle gekies om sy eie volk te wees. Die Here het lief geword vir julle en Hy het julle gekies, nie omdat julle ʼn groter volk as ander volke was nie, julle was kleiner as al die ander volke. Nee, die Here het julle gekies omdat Hy lief was vir julle en omdat Hy wou doen wat Hy vir julle voorvaders belowe het. Dit is hoekom die Here julle met sy groot krag gebring het uit die land waar julle slawe was, Hy het julle losgekoop van die Farao, die koning van Egipte.” – Deuteronomium 7:6-8 (Bybel vir almal [ABA])

Tans is die hartseer gebeure in die Midde-Ooste groot nuus. Dit raak ons as gelowiges intens omdat ons geloofshalwe ʼn liefde en waardering het vir die besondere rol wat Israel in die heilsgebeure gespeel het. Immers, dit is die volk wie die Here uitgekies het om uiteindelik aan die Christuskind geboorte te skenk.

Feit van die saak is egter dat mense van ander volkere ook ʼn rol speel in ons verstaan van wie die Messiaskoning is. Lees gerus die geslagsregister aan die begin van die Evangelie.

Dat Israel uitverkies is om ʼn skynende lig te wees te midde van die volkere wêreld, is tog eweneens so.

Deuteronomium het ʼn verhelderende opmerking. Israel is die geringste onder die nasies. Dit onderstreep juis die grootheid van God se genade. God kies anders as mense. Die jong Dawid is daarvan ʼn voorbeeld. Hy word nie eers genooi na die geleentheid waar Samuel ʼn koning onder die seuns van Isai moet aanwys nie. Om by verlede week aan te sluit, alles, alles is genade, onverdiende guns alleen.

Terug by my aanvanklike gedagte. Israel en die Christusgebeure is onlosmaaklik aan mekaar verbind. ʼn Mens kan nie oor Jesus nadink sonder om oor Israel na te dink nie. Eweneens kan ʼn mens nie oor Israel nadink sonder om oor Christus na te dink nie. Maar ʼn mens kan ook nie oor Israel, Jesus nadink sonder om oor die ander volkere na te dink nie.

Israel se roeping staan vas, om die Habakuk-teks in vervulling te laat tree. Die hele aarde sal vol word van die kennis van die heerlikheid van die Here. Deur Israel word almal, die ganse kreatuurlike wêreld, alles en almal se oë op die drie-enige God gerig.

Nuwe Testamenties word die begrip Israel herinterpreteer. Nie na die vlees nie, alhoewel dit vleesgenote insluit, die wat tot geloof gekom en die Messiaskoning ontvang.

Nou is dit Israel na die Gees. Hulle, uit alle volke, wat die Koning van die Jode, Jesus, die gekruisigde en opgestane Heer in die geloof omhels. Trouens en eerder. Hulle wat op sy omhelsing reageer.

Waar laat dit Israel na die vlees?

Steeds veilig in God se hande.

Waar laat dit die ander volkere, ons aan die suidpunt van Afrika ingesluit, veilig in God se hande.

Hy is met niemand klaar nie, behalwe hulle wat ons reeds vooruitgegaan het. In hulle is die werk van die Gees volbring.

Ons is ʼn “work in progress” as ek die frase hier mag inbring.

Ons mag oor Israel nie dink los van die roeping wat op hulle gerus het nie. Hulle moes ʼn skynende lig wees aan die volkere van die wêreld. Ook ons moet hieraan uitdrukking gee.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.