ToekomsVenster: ’n Opdrag om na die aarde om te sien

Foto: Hanson Lu/Unsplash.com

Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. – Rom. 8:22

“Voordat ek doodgaan gaan ek in die Hennopsrivier swem,” sê James Barnes, direkteur van Hennops Revival, ʼn organisasie sonder winsbejag wat hulle daarop toespits om die erg besoedelde Hennopsrivier te rehabiliteer. Per geleentheid is nie minder as 420 sakke rommel in sewe ure uit die rivier verwyder, nagenoeg 13 000 kg se gemors. Die onsmaaklike toedrag van sake veroorsaak dat die voortbestaan van visse, voëls, eende, ganse en vinke bedreig word. Inderdaad ʼn lieflike en prysenswaardige inisiatief. Die vraag uiteraard is waar die vullis vandaan kom en wat daaraan gedoen kan word.

Opvoeding enersyds en bekwame en voldoende vullisverwydering is uiteraard van die belangrike dinge wat aangespreek moet word. Sonder egter om vingers te wys moet ons onsself afvra in watter mate ons op ʼn verantwoordelike wyse met die omgewing omgaan.

Ek het ʼn kleintjie dood aan die sigaretstompies, koeldrankblikkies en ander materiaal wat uit bewegende motors gegooi word. Mens kan jou egter die aggressie van oortreders op die hals haal as jy hulle teregwys. Mens het inderdaad ʼn fyn aanvoeling vir die situasie nodig.

Voordat egter met ander gepraat word moet elke gelowige seker maak dat hy nie spreekwoordelik agter die deur staan nie. Konsekwente gedrag is noodsaaklik voordat jy ander tot beter optrede oproep.

Kinders van die Here het ʼn reuagtige verantwoordelikheid om die aarde op te pas. Dit is die opdrag wat God aan Adam en Eva gegee het. Die aarde kreun letterlik en is in opstand oor die vernielsug en agterlosigheid waarmee mense, ja selfs Christene, optree. Die naaste oop erf is meermale  ʼn strategiese plekkie om my rommel te strooi, die sypaadjie is reeds vuil en nog ʼn item sal nie ʼn verskil maak nie.

Mag ons genade ontvang om dit wat ons ontvangs het, die mooi wêreld, met verantwoordelikheid op te pas.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.