IPL-reeks geen goeie leesstof

Faf du Plessis in aksie. (Foto: Idrees Mohammed/AFP)

Die vertonings van verskeie van die land se voorste krieketspelers wat in vanjaar se Indiese IPL-reeks speel, sal beslis nie die Proteas se ondersteuners veel moed gee vir die komende T20-Wêreldbekertoernooi in die VSA en op die Karibiese Eilande nie.

Met nog net twee wedstryde vir elke span oor voordat die uitspeelrondes begin, het die Proteas nog nie juis die wêreld aan die brand geboul of gekolf nie.

Nadat Faf du Plessis Saterdag 64 lopies van net 23 balle af gemoker het om die Royal Challengers Bengaluru tot ʼn oorwinning van vier paaltjies oor die Gujarat Titans te stuur, het die hoop opgevlam.

Dit was Du Plessis se derde vyftigtal in vanjaar se reeks nadat hy vroeër ook kolfbeurte van 62 en 61 aangeteken het. Du Plessis spog nou met 352 lopies in die seisoen se reeks, maar hy is slegs 11de op die kolflys van beste gemiddeldes. Boonop is hy nie in die Proteas se T20-span vir die WB-toernooi nie.

Du Plessis se RCB-spanmaat Virat Kohli is met 542 lopies teen ʼn gemiddeld van 67,75 die voorste kolwer.

Heinrich Klaasen met 337 lopies is 14de op die kolflys en spog met ʼn gemiddeld van 48,14 lopies per beurt.

Daar is reeds 11 honderdtalle in vanjaar se reeks aangeteken, maar nog nie een deur ʼn Suid-Afrikaner nie.

Quinton de Kock (81) het die meeste lopies in ʼn beurt deur ʼn Suid-Afrikaner aangeteken met Klaasen wat spog met hoogste tellings van 80, 67 en 63.

Tristan Stubbs se hoogste telling is 71 lopies en Du Plessis spog met tellings van 64, 62 en 61.

Dit gaan nog valer met die Suid-Afrikaanse boulers, met eintlik net Gerald Coetzee (13 paaltjies teen ʼn gemiddeld van 26,23) wat die oog tref.

Onrusbarend is dat die jong Kwena Maphaka (66) vierde op die lys van boulers is wat die meeste lopies afgestaan het, met Anrich Nortjé (65) vyfde.

Coetzee is 13de op dié lys nadat hy 57 lopies in ʼn wedstryd afgestaan het.

* In gister se vroeë wedstryd in Dharamshala het Rilee Rossouw (0) met die kolf vir die Punjab Kings misluk, terwyl Kagiso Rabada (0/24) nie ʼn paaltjie kon inoes nie.

Die Chennai Super Kings (167/9) het die Punjab Kings (139/9) met 28 lopies geklop.

  • Bronne: Indian Premier League, cricinfo.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

George ·

Hoe QDK steeds gekies word weet ek nie, hy het al 5 jaar terug dit duidelik gemaak dat Protea krieket nie saak maak nie, sy spel en form van die afgelope 18maande wys ook hy hoort nie daar nie.

Kuver ·

Ag siestog george dis seker maar moeilik om sois jy te wees, jy is net suur omdat bavuma en kie nie in die span is nie, kry tog n lewe man

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.