ToekomsVenster: ’n Vreugdesdans by die vullissakke

(Foto: Faris Mohammed/Unsplash.)

Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. – Fil. 4:8

Ons het dalk net te gewoond geraak aan slegte nuus in Suid-Afrika. Wanneer ʼn mens voortdurend met negatiwiteit bombardeer word kom daar ʼn punt waar jy sinies word. Jy verdink ander mense, wonder hoe en waar hulle jou gaan indoen, wanneer daar by jou huis ingebreek gaan word en wie die volgende slagoffer gaan wees?

Wanneer ʼn mens dan wel ʼn goeie nuusstorie lees gee dit moed dat dinge tog nie so sleg gaan as wat gesê word nie, dat daar inderdaad nog hoop is.

Dat daar ʼn stroom mense in Suid-Afrika is wat beter wens vir hulself en die land waarvan ons almal deel is, is gewis so.

Ek merk een so ʼn goeie nuusstorie in die koerant op. ʼn Man op reis van die Kaapse lughawe na Gordonsbaai waar sy huis is stop by ʼn Engen-vulstasie om melk te koop. Doodmoeg van ʼn lang dag vergeet hy sy beursie daar. Later die aand ontvangs hy ʼn oproep van polisiebeamptes wat meld dat die persoon by die vulstasie die beursie aan hulle oorhandig het en hulle onderneem om dit die volgende dag af te lewer. Een uur die oggend word die man wakker gebel deur die Wes-Kaapse blitspatrollie wat sê dat hulle in die omgewing is en die beursie sommer gou wil kom aflewer.

Die betrokke persoon deel sy storie op die bekende webwerf #ImStaying en oral dui mense aan dat die storie hul harte warm laat klop. Te midde van groot moeite om die eienaar van die beursie op te spoor glimlag konstabel Solomons en Lewis breed wanneer hulle trots die kosbare besitting terugbesorg. Ons almal weet hoe gesukkel dit is om kredietkaarte en ID-dokumente te vervang.

Daar is goeie nuusstories as ʼn mens jou oë oophou en nie te sinies, agterdogtig, negatief en krities raak oor die samelewing nie.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.