ToekomsVenster: Net oorvloedige dank

Foto: Pedro Lima/Unsplash

“Hulle moes ook elke môre hulle plek inneem vir die dank en lof aan die Here, en so ook saans.” – 1 Kronieke 23:30 (AFR83)

“Telkens wanneer jy genoeg geëet het, moet jy die Here jou God dank vir hierdie goeie land wat Hy aan jou gegee het.” − Deuteronomium 8:10 (AFR83)

Ek herinner my aan my pa se tafelgebede, net voor en net na ete. Amper Hollandsagtig het hy gebid: “Segen Vader dese ete – laat ons U naam nimmer vergete. Amen.”

Nadat ons saam geëet het was daar ook ʼn gebed waarvan ek nie nou die woorde onthou nie. Amper formulieragtig − nie vry gebede nie, maar tog uit die hart.

Ons het nie almal amen gesê nie, net hy. Dan het ons weggelê aan wat my ma voorberei het.

Ons sou nooit eet voor daar nie gebid is nie. Ons sou nie opstaan voor daar nie dankie gesê is nie.

My pa was kwaai en ons het nie kanse gevat nie.

Ek wonder wie van julle kan daarmee identifiseer, die gebed by die tafel?

Ons bid steeds vir die ete, net soos ons ouers ons geleer het. Ons het nie ʼn dankgebed na ete nie, maar bid voor die tyd.

Ons bid oral, ook in die restaurant.

Dis ʼn getuienis, ʼn getuienis van dankbaarheid.

Een van die groot gevare van die geloof is om die lewe en die gawes wat deel is daarvan as vanselfsprekend te aanvaar.

Ons jaag om betyds by alles uit te kom. Baie huishoudings is van chaos aanmekaar gesit.

Kinders is deesdae besiger as hul ouers. Hulle moet hier opgetel en daar afgegooi word. Dis sport en kultuur en spesiale aanvullende klasse. Dis van drag verwissel om by die volgende aktiwiteit uit te kom.

Baie kinders gaan vroeg soggens uit die huis en kom letterlik vanaand, na die son sak, by die huis.

Dis lewe op weg, “life on the go”.

Dis afmerk wat klaar is en by die volgende afspraak uitkom.

Tyd vir gebed en dankie sê raak op die agtergrond.

Dit mag nie.

Dis onverskillig en ondergrawe die geloofslewe.

Maak tyd vir saam eet, saam bid, saam dankie sê en om saam fees te vier.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Sedert die dae van die Franse Hugenote met hul Christelike geloof wat dadelik kerkies opgerig het vir dienste en gereeld huisgodsdiens gehou het, het ons ver afgedwaal. Sal Afrikaners wanneer hul bestaan bedreig word, weer saam en eensgesind kan bid? Siener van Rensburg het oa glo voorspel dat groot bedreigings wag. Dit sal eers beter gaan wanneer eensgesindheid en opregte geloof weer posvat. Dit is moeilik om te glo dat ons wat nou soos ‘n muwwe ou bruinbrood brok, weer saam met ons naaste-naaste sal kniel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.