ToekomsVenster: Nie onmoontlik vir God

(Foto: Jill Heyer/Unsplash)

Die gevolg was dat daar van een man, ‘n man wat nie meer ‘n kind kon verwek nie, kinders afgestam het so talryk soos die sterre van die hemelruim en so baie soos die sand van die see. – Hebreërs 11:12

Seesand bestaan uit ontelbare klein korreltjies wat sommer vuurwarm kan word as die son daarop skyn. Dit wriemel onder jou voete as jy in die vlakwater die golfies oor jou voete laat breek en ervaar hoe die sand onder jou voete wegkalwe.

Jy volg die skewe ry spoortjies wat ʼn krappie op die sand gelos het. Oral is daar ronde gaatjies waar die skugter diertjie in verdwyn het.

Ander sien die sand by die see as ʼn bron van verlore skatte. Ringe, hangertjies en ander kosbare juwele wat in die branders van jou geroof is. Interessant om te sien hoe die skattejagters met hul opspoorapparaat en grafie die terrein fynkam vir kosbaarhede.

Die skrywer van die Hebreër brief sê die see en seesand herinner hom aan ʼn man met die naam Abraham. Die man en sy vrou het ʼn kind begeer, trouens, hulle het ʼn belofte gehad dat ʼn seun vir hulle gebore sou word. Met tyd het die hoop in so ʼn mate vervaag dat Sara ʼn plan beraam het. Abraham moes by haar slavin ʼn kind verwek sodat hulle darem nie in skaamte sterf nie.

Dit was egter nie die belofte wat die Here in gedagte gehad het nie. Wanneer Sarah vanweë ouderdom moed opgegee het en Abram self te oud geword het gebeur die onmoontlike – Isak word gebore. God se belofte was dat uit hierdie seun daar ʼn nageslag sou voortspruit getal ryk soos die sand by die see.

Dink daaraan, dit het by wyse van spreke met ʼn enkele sandkorrel begin. Isak is die vader van Jakob en hy is die vader van twaalf seuns, van waaruit die twaalf stamme van Israel gegroei het.

Lees net weer ʼn keer die teks. Dit is dalk onmoontlik vir mense maar geen probleem vir God nie.

Ek wonder of jy vandag met ʼn soortgelyke situasie gekonfronteer word?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat U my weer vandag herinner aan U Almag….niks en niemand kan U inperk nie…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.