ToekomsVenster: Om in ’n nuwe lewe te kan wandel

(Foto: Brian Mann/Unsplash)

“Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ʼn nuwe lewe kan wandel.” – Romeine 6:4 (AFR53)

Ons dink hierdie week ietwat na oor “herlewing”. Soos reeds aangedui, het herlewing met die nuwe lewe wat kom te make wanneer ons besef dat ons toewyding aan die Here nie meer is wat dit was nie.

Een van die gemeentes in Openbaring word juis daarvan bewus gemaak dat hulle hul eerste liefde verlaat het.

“Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.” – Openbaring 2:4-5 (AFR53)

ʼn Ander gemeente word verwyt dat hulle nie koud of warm is nie, maar lou.

“Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm!” – Openbaring 3:15 (AFR53)

Ons mag redeneer dat lou darem nie so sleg is nie, maar God se opsomming daarvan is dat dit onverkwiklik is en derhalwe word dit uit mond gespoeg.

Ons lees dat die oordeel by die huis van God begin.

“Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?” − 1 Petrus 4:17 (AFR53)

Maleagi verwyt die volk van die Here dat hul gebreklike offers bring, wat nie aan voorskrifte voldoen nie.

“Dit is wat die Here die Almagtige sê. Julle bring gesteelde, lam, siek diere, julle bring dit as offers! Moet Ek ingenome wees daarmee dat julle vir My sulke goed bring? vra die Here.” − Maleagi 1:13 (AFR83)

Alhoewel ons nie meer offers bring soos in Ou Testamentiese tye nie, bly die beginsel dieselfde.

Romeine leer ons dat ons lewende, God-welgevallige offers moet wees.

Die Bybel sê: “Ondersoek julleself”. Jesaja nooi ons uit om in bekering na die Here terug te keer.

Nog ʼn plek sê: “Keer terug na die Here met jul hele hart” – Jeremiah 29:13

My bedoeling is nie om skuld uit te deel nie. Vier vingers wys na my.

Iemand het gesê dat die regte plek om te begin wanneer daar vir herlewing gebid word, is by onsself. Trek ʼn sirkel om jou en bid dat die transformasie daar sal begin.

Dit is dislojaal teenoor die Koning van die eeue, die Skeppergod, ook ons God, om Hom op die agtergrond te skuif. Ons kan nie self regkom nie, daarvan hoef ons mekaar nie te oortuig nie. Ons is desperaat afhanklik van Hom.

Hy het boonop goeie bedoelings met ons. Waarom sou ons dink dat toewyding aan God gebrek, swaarkry en ellende beteken? Waarom bevraagteken ons God se bedoelings met ons. Was Hy dan nie getrou in die verlede nie?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.