ToekomsVenster: Om ’n gawe van onderskeiding te ontwikkel

dink-denke-denker-man-sit-rots

(Foto: Christopher Sardegna/Unsplash)

“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” – Efesiers 1:3 (AFR83)

Bedelaars vir Jesus, of gesante van Jesus?

Die kerk is nie altyd aantreklik nie, kom ons erken dit aan mekaar. Soms is die kerk eerder ʼn remskoen vir die koms van die Koninkryk as wat dit ʼn aanwins en aansporing is vir mense om ook daaraan te wil behoort.

Die alewige gestryery in die kerk, ai tog. Is dit nie die vrou in die amp nie, is dit Belhar. Is dit nie die doop nie, is dit die duiwel. Is dit nie seksuele oriëntasie nie, is dit iets anders.

Boonop voel dit asof ons al die tyd in die wêreld het om die Koninkryk van God deur ons gehoorsame en entoesiastiese dienswerk te laat gedy. Ja, dit hang uiteraard nie volledig van ons af nie, maar die Ons Vader-gebed en die bede rondom die Koninkryk wat onder ons gestalte moet kry, het tog net een adres.

Gelowiges wat die roeping ernstig opneem en woeker met hul gawes.

Hiermee betoog ek nie dat niks bevraagteken, ondersoek of bespreek mag word nie. Inteendeel, die kerk se verstaan van die Skrif is nie klaar en afgehandel nie. Ons tas somtyds in die donker rond om te probeer onderskei wat regtig belangrik is, en wat nie.

Paulus bid juis dat die gemeente ʼn gawe van onderskeiding sal ontwikkel sodat hulle sal weet wat van kardinale belang is. Lees maar gerus Filippense 1:10.

Die tydsgewrig waarin ons leef roep die kerk om die gawe van onderskeiding baie ernstig op te neem. Ons is tog rentmeesters van die middele wat God tot ons beskikking stel, eerstens as individuele gelowiges, maar ook die wyse waarop hulle georganiseer word, of dit gemeentes, ringe of sinodes is. Ander kerkverbande se strukture lyk anders, maar ek dink jy volg my redevoering in die verband.

God vertrou ons, sy kerk, sy ambassadeurs, om ons self as vername bron, maar ook die geld, tyd, geriewe, geleenthede wat Hy aan ons toevertrou, veral die leiding van sy Gees, met groot verantwoordelikheid te fokus waar dit nodig is.

Mag die Here vir ons die genade gee dat die gesegde – die kerk speel viool terwyl Rome brand – nie van ons waar mag wees nie.

Die vraag aan die einde van die dag lyk my is: is ons regtig met die Here se werk besig?

Ek herinner my dat Hy gesê het – ek was honger, naak, in die gevangenis, siek, verwaarloos en julle het, of julle het nie. ( Mattheus 25:42)

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.