ToekomsVenster: Om ’n verskil met jou talente te maak

sout-en-lig-met-bybel-deur-congerdesign-pixabay

Foto: Congerdesign/Pixabay.com

“Julle is die sout van die aarde…” – Matteus 5:13 (AFR 53)

So nou en dan ontmoet ʼn mens iemand wat regtig indruk maak. Somtyds hoor ʼn mens dat iemand sê: “so en so het ʼn indruk op my gemaak”, maar dit kom vanuit ʼn posisie van meerderwaardigheid. Ek belowe dit is nie die geval nie.

Veel eerder, dat hierdie persoon se lewe en getuienis ʼn appèl maak op my eie lewe en die manier waarop ek die toekoms tegemoet gaan.

Op negejarige ouderdom het Amira Willighagen die talentsoekprogram, Holland’s Got Talent, met ʼn groot meerderheid van stemme gewen. Ek is daarvan oortuig dat die meeste van julle wat hier lees en na hierdie opname luister, hierdie spesifieke optrede gesien het.

Dis sommer ʼn jong dogtertjie wat met soveel bravade, oortuiging en selfvertroue met die paneel beoordelaars in gesprek tree en dan haar lied, “O Mio Babbino Caro”, vir beoordeling aanbied.

Die jong meisie is nou 19 jaar oud en woon in Suid-Afrika. Sy en haar ma het na Suid-Afrika verhuis toe sy 13 jaar oud was.

Vir alle praktiese doeleindes, ʼn doodgewone meisie. Sy stel belang in die dinge waarin ander mense belangstel en leef haar lewe, as jongmens, voluit. Tog is sy internasionaal bekend as opera-sangeres en het sy reeds saam met van die mees beroemde dirigente en orkeste ter wêreld gewerk.

Sy sê dat haar optrede saam met Andre Rieu een van die hoogtepunte van haar loopbaan verteenwoordig. Meer as 60 miljoen mense het aanlyn na daardie optrede gekyk.

Amira het verlede jaar matriek geskryf en wil musiek studeer aan die Universiteit Stellenbosch. Sy het agt onderskeidings in matriek behaal, te midde van ʼn besige wêreldwye sangloopbaan.

As jy ʼn bietjie rondblaai op die internet en die suksesse sien wat sy al behaal het in die 10 jaar van haar sangloopbaan, is dit bykans te goed om waar te wees.

Op 7-jarige ouderdom het sy saam met haar ma in Suid-Afrika vakansie gehou. Die feit dat ander kinders nie lekker kon speel nie, en dit in goed toegeruste speelparke soos die waaraan sy gewoond was in Nederland, het haar intens geraak. Daar en dan het sy vir haar ma gesê dat sy graag sou wou help dat kinders kan speel.

So het die Gelukskinders-stigting beslag gekry.

Tot op datum het hulle meer as twintig, pragtig toegeruste speelparke, met uitnemende toerusting, in minder gegoede buurte opgerig.

Daar is nie ʼn aanstellerigheid by Amira nie. Sy gee die eer vir haar sukses aan die Here en getuig dat sy sonder Hom niks kan doen nie.

Vir haar is dit genoeg om mense se harte aan te raak deur die musiek wat sy voordra.

“Miskien bring dit genesing, vreugde én genesing,” sê sy.

Amira is rasend opgewonde oor Suid-Afrika en sy mense. Daar is geen ander land ter wêreld waar sy wil woon nie.

Soos ʼn ware ambassadeur erken sy dat daar vele uitdagings is in hierdie pragtige land, maar besing die verskeidenheid mense wat hier woon se kleurvolheid, talente, kultuur en menswees.

Amira is besonder begaafd, niemand kan daaraan twyfel nie. As ek egter God se Woord reg verstaan, het elke mens gawes van die Gees ontvang waarmee hy of sy ʼn verskil kan en moet maak in hierdie wêreld.

Amira sê dat as sy sukses kon behaal, enigiemand anders dit ook kan doen.

Ek hoop dat my lewe ook so aansteeklik is soos dié van hierdie jong meisie. Ek hoop dat jou lewe, eweneens, van ʼn innerlike oortuiging getuig wat ander mense se menswees die moeite werd maak.

Blaai gerus op die internet rond, tik die naam Amira en bederf jouself met die mooiste musiek denkbaar.

Dankie Amira, jy maak ʼn verskil.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Ja kom ons Afrikaners doen vir ‘n slag iets vir ons naaste, bv ons eie familie… Glo dit as jy wil, hulle is ook ons naaste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.