ToekomsVenster: Om saam te bid

gebed-hand-oplig

Foto: Edwin Andrade/Unsplash.com

Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry. – Matteus 18:19

Die bekende sangpaar, Cor en Letitia, sing ʼn liedjie wat op hierdie teks gebaseer is. “As twee van julle op aarde oor ʼn saak saamstem en bid…” Ek hoor dit in my gedagte toe ek die teks raaklees.

Christenskap word nie en kan nie in isolasie bedryf word nie. God is ʼn sosiale wese, Hy is immers drie-enig. Dis vreemd om te dink dat Vader, Seun en Heilige Gees met mekaar kommunikeer, tog is dit so.

Die Bybel sê dan die Gees tree vir ons in met onuitspreeklike versugtinge en pleit vir ons by die Vader. Ook die Seun tree by die Vader vir sy kinders in. Toe die Vader geskep het, vind daar ʼn gesprek plaas.

“Laat daar lig wees en daar was lig”. Toe het God gesê: “dit is nie goed dat die mens alleen is nie”.

Aan wie het God dit gesê? Aan Homself. Drie-enig.

Sou die Vader die opmerking gemaak het en die Seun en Gees saamstem? Immers niks wat bestaan het sonder die Seun ontstaan nie.

Die Gees het rusteloos op die water gesweef wagtend op die skeppingswoorde van God die Vader en die Seun.

Misterieus, wonderlik en aangrypend.

Nou sê die teks dat gelowiges mekaar nodig het en dat hulle aan mekaar gegee word ten einde die reis draaglik te maak. Die Emmausgangers is juis in ʼn tweegesprek oor die dinge wat die afgelope dae in Jerusalem plaasgevind het.

Die Bybel getuig van saam leef, beplan, bid en wag. Israel is God se volk en is individueel en gesamentlik op mekaar aangewese. Dis steeds so. Twee is beter as een, getuig die Bybel. Jesus stuur sy dissipels twee-twee uit. Een honderd en twintig wag op die vervulling van die Gees belofte.

ʼn Gemeente is die samekoms van gelowiges. Een persoon by hom of haarself is nie ʼn gemeente nie. Twee of drie neem profeties deel aan die erediens, iemand anders lê die gedagtes in verstaanbare taal uit.

Is jy ʼn geestelike lone ranger? Hoe figureer die erediens en ander geestelike byeenkomste in jou weekprogram? Waar en hoe bid en groei jy saam met ander?
Die ander gee perspektief, kyk met ʼn ander paar oë na die probleem, het ander vaardighede en insigte as jy.

Moenie ander uitsluit uit jou lewe nie. Vind saam vreugde in diens van die Here.
As julle saamstem en bid (bekend as korporatiewe salwing), neem die hemel kennis. Waarom? Omdat julle die saak reeds behoorlik deurdink het, mekaar opgeskerp het of die saak inderdaad die toets van die Skrif deurstaan, saam kom oorweeg of die Here se seën op so ʼn aangeleentheid kan rus en dan vanuit daardie oortuiging begin bid.

Die belofte staan vas, die Vader in die hemel sal die belofte gestand doen.

Die man van gebed: “… sy hart is ewig opgehef tot God, ten alle tye en op alle plekke. Geen persoon of ding verhinder, nog minder onderbreek hom hierin nie. Of hy alleen is of saam met mense, besig is met ontspanning, of in ‘n gesprek, sy hart is ewig by die Here. Of hy lê of opstaan, God is in al sy gedagtes; hy wandel voortdurend met God, met die liefdevolle oog van sy gemoed steeds gevestig op Hom, en oral ‘sien hy Hom wat onsigbaar is’.” ~ John Wesley (Evangelis)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.