ToekomsVenster: Onthou jy is heilig

(Foto: Pixabay)

“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie.” – Hebreërs 12:14 (AFR53)

In gister se dagstukkie het die woord “heiligmaking” na vore gekom. Presies wat word met hierdie woord bedoel?

Interessant dat dit verwys na iets wat reeds ʼn realiteit is, maar iets wat ook besig is om ʼn realiteit te word.

In Christus Jesus is ons heilig en word ons dikwels so aangespreek in die Woord van God. Wanneer die Vader na ons kyk, sien jy mense wat deur die bloed van Christus Jesus geregverdig is. Dit beteken doodgewoon dat dit wat hulle skei van God die Vader deur die offer van Jesus, aan die kruis van Golgota, weggeneem is.

Dit is ons status voor God. Ons word nie in die Woord van die Here as sondaars aangespreek nie, maar as nuwe mense. Die Bybel sê, die ou dinge is verby en alles het nuut geword.

Ons roeping is om te leef soos mense wat geheilig is.

Maar heiligmaking is ook ʼn proses. Dit duur die hele lewe en God is eers met daardie proses klaar die dag wanneer Jesus op die wolke verskyn of ons kom haal. Op daardie dag sal ons volmaak wees, volkome Heilig.

Tot op daardie dag stry ons teen dit wat verkeerd is. As ons hierdie stryd in ons eie krag moes stry, sou dit nie moontlik wees nie. Dis juis waarom die Heilige Gees gekom het.

Die Heilige Gees rus ons toe met die waagmoed om sonde die rug te keer en agter Jesus aan te loop in hierdie wêreld.

Gelowiges het nie vlerkies nie. Hulle staan stewig op aarde en in hierdie lewe. Dis hier waar hulle hul getuienis moet uitleef.

Dis nie altyd maklik nie en gaan somtyds met versoekings gepaard. Wie egter sy dag met Christus begin en afsluit, het die versekering van sy nabyheid, van sy toerusting, van sy troos en van sy krag, ongeag watter uitdagings daar ook al mag wees.

Somtyds moet ʼn mens jou verootmoedig en verneder voor die Here. Dis asof jy wil sê: “Ag Here, dis alweer ek. Ek het U weereens teleurgestel. Ek is so verskriklik jammer”.

Dit is dan wanneer die Here ons verseker dat Hy die werk in ons begin het en dat Hy dit sal klaar maak. Hy is ywerig om te vergewe, ons te reinig van dit wat verkeerd is, ons te vul met sy Gees sodat ons verder kan reis op die pad waarmee ons gekom het.

Die Bybel sê die Heilige Gees oortuig ons. Die Heilige Gees kla nie aan nie, dis die wyse waarop die bose werk. Die Heilige Gees beledig nie, skryf nie af nie, verklaar jou nie minderwaardig nie, vertel jou nie dat jy ʼn reuse-teleurstelling verteenwoordig nie.

Die Heilige Gees kom in sagtheid en deernis na die mens en herinner ons aan die roeping wat op ons lewens rus.

Ook van die prys wat Jesus namens ons betaal het. Hy verseker ons van sy bystand.

Onthou jy is heilig en jy bevind jouself op die pad van heiligmaking.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.