ToekomsVenster: Pinkster en genade

(Foto: Irina Iriser/Unsplash.)

Johannes 1:14 – Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

Ons kuier saam met mekaar rondom die werk van die Heilige Gees wat baie lank gelede aan die kerk gegee is maar vandag nog net so dinamies werksaam is in sy gemeente. Die belofte hou immers verband met dinamiese krag, vermoë, bo menslik, Goddelik en heerlik.

Die bekende lied getuig van die genade wat ons deel geword het omdat Jesus die prys betaal het. Almal het gesondig herinner Paulus ons, maar die genade gawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus. Derhalwe, genade onbeskryflik groot het U aan my bewys. ʼn wegloopkind weer in die Vaderhuis.

Genade is onverdiend. Ons dink ons kan punte by God opstapel wat gegrond is op ons sogenaamde voorbeeldige lewens. Die Bybel sê ons beste poging is soos ʼn wegwerplike kleed. Ons vermag niks in eie krag nie. Ons staan verleë voor sy Koninklike regterstoel. Ons is skuldig en reeds veroordeel tensy ons die genade tou wat God uit die hemel gewerp het, in die volheid van die tyd, onbevange desperaat en gelowig vasgryp en vra dat ons uit die moeras van hopeloosheid en pyn gered word.

Genade word nie gerantsoeneer nie. Dit is oorvloedig, genoeg en effektief. Dit maak enige oortreding toe. Dit heel die stukkendste hart. Dit verbind die ergste wonde. Genade red die slegste mens, die ellendigste sondaar, die verlose seun.

Dalk worstel jy met die vraag of daar vir jou genade kan wees. Luther het gevra: “Waar kry ek ʼn genadige God”?

Somtyds is ʼn mens se sonde so konfronterend dat jy begin dink dat selfs God jou nie kan bykom nie. As genade van verdienste afgehang het was ons almal verlore. By God is daar nie klein en groot sondes nie. Sonde is rebellie ongeag hoe gering dit in jou of ander mense se oë mag wees. Genade is vir sondaars bedoel. Gesonde mense leer Jesus ons vra nie na ʼn geneesheer nie. Dit is eers wanneer jy besef dat jy ernstig siek is dat jy ʼn geneesheer raadpleeg.

Covid-19 herinner en konfronteer ons met letterlik miljoene mense wêreldwyd wat die risiko loop dat hulle aan die virus kan beswyk. Die kortstondigheid van die lewe word ongenaakbaar aan ons voorgestel. Die Bybel sê “almal is bestem om te sterwe en dan kom die oordeel”.

Jesus leer dat ons die oordeel nie hoef te vrees as ons in geloofsvertroue na Hom toe kom nie.

Ons lees in Johannes 3: “Wie glo word nie veroordeel nie.

“Kom laat ons die saam met mekaar uitmaak” is Jesus se uitnodiging aan elkeen wat wonder of daar genesing vir sy innerlike mens kan wees.

“Al was jou sonde soos skarlaken, al was dit rooi soos purper, dit sal wit word soos wol.”

Moenie uitstel nie. Pinkster-genade wag op jou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.