ToekomsVenster: Pure verwondering

(Foto: Clark Young/Unsplash.)

U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon. – Ps.8: 6

Van tyd tot tyd stuur mense video’s aan van mense wat presteer op bekende televisiereekse soos America’s got talent. Ek staan verwonderd oor die talent waarmee sommige mense gebore is. Dit is veral die kinders wat beïndruk. Sommer is nog net ‘n ou tjokkertjies dan bespeel hulle instrumente op meesterlike wyse, hanteer die gehoor soos ʼn professionele kunstenaar, draai die beoordelaars om hul pinkies.

Dan is daar die verhale van mense wat gedroom het dat hulle eendag aan so ʼn geleentheid sou kon deelneem. Die kans egter was uiters gering gegewe hul agtergrond en konteks. Wonder bo wonder hoor iemand hulle raak en stel hulle aan ʼn nuwe wêreld voor. Met die krag van die tegnologie versprei inligting wêreldwyd en kan een en elkeen die mooi gawes geniet en waardeer.

Alle mense is vir God belangrik. Ons word op ʼn verskeidenheid van maniere begenadig terwyl die Heilige Gees vir sy eie doel gawes uitdeel soos Hy wil. Jaloers wees op ander se vermoëns bring ʼn mens nêrens nie. Elkeen is uniek en die Here verwag getrouheid van sy kinders, ongeag waarmee Hy jou vertrou.

Sommige deel ʼn wêreldverhoog en ander maak ʼn verskil in die straat waarin hulle woon. Niemand is belangriker by die Here as ander nie. Ons kan mekaar ondersteun en aanmoedig om alles te wees wat die Here bedoel het. Daarmee saam bewonder ons die God wat gawes uitdeel. Ons verwonder ons oor die skoonheid en edelheid daarvan. Ons geniet die kunste as ʼn wonderlike gawe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.