ToekomsVenster: Raak jy nog ontsteld?

traan-trane-oog-huil

(Foto: Aliyah Jamous/Unsplash)

“Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur.” – Romeine 12:15 (AFR83)

Die media speel so ʼn belangrike rol om ons ingelig te hou. Ek is ietwat van ʼn nuusverslaafde en voel sommer gedisoriënteerd as ek nie tred hou met wat rondom my, naby en ver, gebeur nie. Uiteraard leef niemand in ʼn kokon nie. Die wêreld en sy gebeurlikhede het ʼn invloed op ons.

As die olieprys styg betaal ons meer vir brandstof. As voëlgriep uitbreek is ander produkte duurder en soms onverkrygbaar. Die teendeel is ook waar.

Die media laat val die kollig meermale op die opspraakwekkende en ontstellende. Ook daarvan moet ons kennis neem. Die probleem is dat ons gewoond raak aan slegte nuus. Dit ontstel ons nie meer nie, dit vorm nie deel van ons gevoel van medemenslikheid nie.

Ons smul hartlik aan ons aandete terwyl grusame tonele op die TV, nuus of een of ander storie wat ons volg, grafies uitspeel. Dit gaan by ons verby. Dis surrealisties, dis ver, dis bykans fantasie, maar fantasie is dit nie. Nie as dit by nuus kom nie. Dis iemand se ma, pa, broer, suster, vriend, vriendin, eggenoot en so kan ons aangaan.

Tans is dit die gebeure in die Midde-Ooste, ook die onverkwiklike gebeure in die Oekraïne en Rusland. Die opskrif by beriggewing lui dikwels “waarskuwing: foto’s en beeldmateriaal in hierdie oorlogsdekking mag sommige lesers ontstel”. Miskien moet dit ons almal ontstel.

Uiteraard kan ʼn mens nie deur elke stukkie trauma op sleeptou geneem word nie. ʼn Mens sal pal depressief en morbied wees.

Op ʼn manier moet ʼn gesonde afstand gehandhaaf word.

Tog wonder ek of ons nog ontsteld word oor die onreg, bloedvergieting, saakbeskadiging, verwoesting, swaarkry en lewensverlies wat sigself wêreldwyd uitspeel.

Waarom sou ʼn mens bid as jy nie ontsteld is nie, wonder ek.

Geboue kan met moeite en beleggings herbou word, terwyl die infrastruktuur herstel kan word.

Mense se lewens kan nie vervang, herstel of herbou word nie.

Kinders, veral wat in die oor en weer skietery verwond en vermink word, gaan die toekoms met daardie letsels tegemoet.

Dit kon my kind of jou kind gewees het. Ons het geen aandeel daarin dat ons in Suid-Afrika gebore is en nie in Soedan nie.

Kom ons raak weer ʼn slag ontsteld. Daar is eintlik geen ander opsie nie.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.