ToekomsVenster: Reën van bo

(Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

“Die Here sal sy goeie skatkamer, die hemel, vir jou oopmaak om die reën van jou land op die regte tyd te gee en om al die werk van jou hand te seën; en jy sal aan baie nasies uitleen, maar self nie hoef te leen nie.” – Deuteronomium 28:12

Ons het die afgelope tyd sulke heerlike reën gehad. Ek vermoed dat groot dele van Suid-Afrika op dié wyse geseën is. Ons is baie afhanklik van water en veral vir Suid-Afrika, wat dikwels ʼn waterskaarste ervaar, is reën ʼn welkome verskynsel. Die damme loop vol en die landerye staan groen. Ons tuin het skielik lewe gekry na die koue winter. Die gras wat leweloos vertoon het, staan geil groen en die plante floreer.

Gedurende die week, nadat dit mildelik gereën het gedurende die nag, val dit my op hoe vars alles vertoon. Die wêreld is skoongewas en die lug is heerlik koel en vars.

Dit is toe dat ek besef dat ons in Suid-Afrika ʼn bui hemelse reën dringend nodig het. Die lug is lank nie meer vars nie. Die moord en doodslag, die korrupsie en bedrog, die verminking van vroue en kinders en die gebrek aan sterk morele leierskap maak dat die lug onsuiwer is en onaangenaam ruik. Dit is dor en droog by ons.

Ons het reën nodig. Reën van Bo, Goddelike reën wat ons skoon kan was en kan herstel. Mag die Here daardie reën gee en mag dit gou kom.

Ek het gedurende die week met verskeie persone gesels wat vertel het van hoe skoon en gedissiplineerd sommige lande rondom ons is.

Prof. Johan Willemse vertel van sy besoeke aan Namibië. Hy het duisende kilometers afgelê en nie een slaggat in die pad gevind nie. Hy verwys ook na hoe skoon en netjies die land, ook Botswana, vertoon.

Barend le Grange, ʼn bekende in gemeenskapsherstel vertel van sy hoeveelste besoek aan Rwanda. Die land het ʼn hartseer geskiedenis van ʼn volksmoord waarin meer as ʼn miljoen mense gesterf het. Die land het egter besef dat genesing en herstel broodnodig is. Eens opponerende groepe aanbid nou saam.

Nog nie een keer het hy, wat talle lande in Afrika getoer het, vir een enkele oomblik onveilig gevoel nie. Suid-Afrika is ʼn oorlogsone. Jou kinders is nie veilig nie. Een man staan tereg op meer as ʼn honderd aanklagte van verkragting. Hoe is dit moontlik? ʼn Ma vermoor al vier haar kinders. Wat het skeefgeloop?

Wanneer gaan die ongemak met die huidige toedrag van sake ons daarby bring om weer na God te soek en mekaar as die grootste geskenk op aarde te omhels?

Mag die Here reën gee. Hemelse reën wat ons sal was, skoon sal was, en sal toerus vir ʼn nuwe seisoen van groei.

“Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.” – 1 Johannes 1:7 (AFR53)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat U die hemelse reen sal stuur oor SA…amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.