ToekomsVenster: Skop jou skoene uit by God


Man_veld_Bybel_Stiltetyd_.jpg

Foto: teachingthem.com

Johannes 10:10 – Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Romeine 12 – En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

Omskrywing: Dink vir ’n oomblik na oor die vraag: Wanneer skop ek my skoene uit? Is dit nie wanneer ons regtig ontspanne is en tot rus kom nie? Hierdie beeld herinner ons daaraan dat God ons uitnooi om by Hom te kom rus, van Sy teenwoordigheid bewus te word en dan te ontvang wat Hy vir ons wil gee. Om ons skoene by God uit te skop is om veilig en welkom te voel by die Here, omdat Hy ons vergewe en ons uitnooi om by Sy voete te kom sit (te leef soos mense wat vergifnis ontvang het en wat versoen is met God). Om in Sy teenwoordigheid stil te raak en rus te vind.

Geloofsgewoonte: Jy leer om stil te word voor God, vir party is dit net rustig en stil, ander weer gebruik hierdie as ’n gebedsgeleentheid.

Hierdie gewoonte is ’n gewoonte in luister. Jy beoefen dit wanneer jy stil word en luister. Jy kan ook gebruikmaak van gebede wat jy bid. Jy sou ook ’n gebedeboek kon koop en wanneer jy hierdie gewoonte beoefen, gebede lees. Jy sou ook na rustige musiek kon luister.

Iets om vandag te doen:

Sonder jouself af vir ’n minimum van vyftien minute. Stel die wekker op jou selfoon as jy bekommerd is jy gaan tred met die tyd verloor.

Maak seker dat jy gemaklik sit. Verkieslik moet beide voete op die vloer wees, jou rug reguit, en geen ledemate gekruis nie. Haal bewustelik ’n paar keer diep in en uit asem. Die doel van die bewustelike asemhaling is om jou liggaam tot rus te bring. Ons leef dikwels met onbewuste spanning. Deur diep asemhaling stel ons negatiewe emosies vry en ontspan ons sodat ons kan fokus. Plaas jouself doelbewus in die teenwoordigheid van God. Raak bewus van God se liefde vir jou en plaas jou in die middelpunt daarvan.

Kies ’n woord of frase uit die Skrif wat jou begeerte na God se teenwoordigheid bewoord (bv. “liefde, genade, trou en vrede”). Laat die woord of frase jou gedagtes vashou deurdat jy die woord herhaal in jou gedagtes. Vir sommige bidders help dit om die woord saam met die ritme van hulle asemhaling te herhaal. Byvoorbeeld “God (asem uit) is liefde (asem in)”. Op die manier word ons gedagtes en liggame, aan God gebind.

Neem jou tyd om tot rus te kom. Dit is nie vreemd as daar in die begin baie gedagtes deur jou kop maal nie en dat jy sukkel om op God te fokus nie. Laat die steurende gedagtes gaan deur hulle nie verder te bedink nie. Bring eerder jou aandag terug na die woord of frase wat jy gekies het deur dit in jou gedagtes te herhaal. Verplaas so die steurende gedagtes met jou fokuswoord.

Een van die maniere om jou gedagtes tot rus te laat kom, is om in jou gedagtes ’n rivier voor te stel waarvan die oppervlakte onstuimig en vol opdrifsels is, maar waarvan die bodem, waar jy rus, kalm en rustig is. Verbeel jou dat jou steurende gedagtes deel van die opdrifsels is wat weggevoer word. Moet dit nie probeer volg nie, maar laat dit gaan. ’n Ander tegniek is om jouself in ’n stil kamer te verbeel waar jy alles wat jou pla of onrustig maak, veilig in die laaie van ’n groot houtkas kan wegbêre en toesluit.

As jou gedagtes tot rus gekom het, kan jy vertoef in God se teenwoordigheid. Vertrou die Heilige Gees, wat in die diepste van jou gees woon en wat jou met God verbind.

Neem ’n paar minute om uit die gebed te beweeg. Moenie te haastig wees nie, asem as’t ware God se teenwoordigheid in. Bied jouself aan God vir die take wat op jou wag. Herhaal in jou gebed “Ek behoort aan u” en “Wees met my”.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Berny ·

Dankie vir die pragtige word “Skop jou skoene uit by God” – het my beslis rede gegee om in te neem oor wat God ook vir my wil se en dat ek Sy stem kan hoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.