ToekomsVenster: Soek jou hulp by die Here

sonsopkoms-berg-02

Foto: Pablo Heimplatz/Unsplash.com

Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind en graag na u tempel toe gaan. Vir hulle gaan daar fonteine oop wanneer hulle deur ‘n dorre laagte trek en die vroeë reëns sy seëninge bring. Keer op keer ontvang hulle nuwe krag totdat hulle voor God in Sion verskyn. – Psalms 84:6-8

Is daar ʼn mens wat nie wil hê dat dit met hom sal goed gaan nie? Behalwe as daar iets ernstig skort sal almal dit eens wees – as dit goed gaan is die wêreld ʼn aangename plek.

Laat my dink aan inbel-radioprogramme. Dit is so ingeburger in ons mense, die vraag oor hoe dit gaan. Ten spyte daarvan dat die aanbieder inbellers vra om onmiddellik met die deur in die huis te val, is die eerste vraag altyd: “hoe gaan dit met jou”. Dan is daar natuurlik die telebemarkers. Hulle sê sommer: “dit gaan goed met my, dankie dat jy gevra het” ongeag of jy gevra het of nie. Snaakse klompie mense wat hare op hul tande moet hê om daardie werk te doen.

Iemand het gesê ʼn mens moet twee keer vra hoe dit gaan.

Die eerste reaksie is die geoefende een wat van goeie maniere getuig. “Goed dankie, en met jou?” Dan moet en mens weer ʼn keer gevra word: “hoe gaan dit regtig met jou?” Nou is ʼn mens aan die anderkant van konvensie en dit is inderdaad asof die tweede aandrang jou ietwat tot stilstand bring en laat nadink oor jou eie menswees.

Inderdaad, ook aan jou wat vandag ingeskakel is of lees: “hoe gaan dit regtig met jou?” Natuurlik is almal haastig en ʼn mens wil die formaliteite agter die rug kry sodat jy by besigheidsake kan uitkom. Nie almal is in elk geval bereid om te luister nie. Dus voordat jy ʼn tweede keer vra moet jy net seker maak dat jy bereid is om te luister. Volstaan andersins dan eerder met die konvensie, dit getuig darem van goeie maniere.

Die Psalmdigter gee raad vir ʼn  lewe wat vervuld, gelukkig en tevrede is.

“Soek jou hulp by die Here”, sê Hy, “neem tyd om in sy teenwoordigheid te vertoef, praat met Hom oor jou uitdagings, maak Hom jou vertroueling, Hy is bereid om te luister”.

Die genade en gawe wat voortspruit wanneer ʼn  mens naby aan die Here leef is merkwaardig.

Lees weer die teksverse saam met my. Inderdaad, wil jy hê dat dit met jou goed sal gaan? Uiteraard.

Maak tyd saam met Hom ʼn onontbeerlike deel van jou daaglikse bestaan.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.