ToekomsVenster: Tot vryheid geroep

(Foto: Timothy Eberly/Unsplash)

“Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ʼn verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.” – Galasiërs 5:13 (AFR83)

Kom ons bly by die tema van vryheid. Die Bybel sê, julle is tot vryheid geroep. Moenie julle vryheid gebruik as ʼn verskoning om sonde te doen nie.

Daar is so ʼn delikate balans wat in die lewe gehandhaaf moet word. Dit bly ʼn interessante uitdaging om ewewigtig aan die lewe deel te neem.

Die Bybel sê die Gees maak lewend, maar die letter maak dood.

Om die wil van God na te streef is natuurlik die regte ding om te doen. As jou verstaan van die wil van God jou egter doodsmoor en geen ruimte laat om jouself te wees nie, het ek ʼn idee dat jy verkeerd verstaan.

Die Here bedoel nie om ons in te perk nie, maar juis om aan ons ruimte te gee waarbinne ons aan die lewe in sy volheid kan deelneem.

ʼn Mens moet versigtig wees om nie aan ander mense voor te skryf wat hulle mag en wat hulle nie mag doen nie. Ons praat immers van ʼn persoonlike verhouding met die Here en verskillende mense beleef hulle verhouding met die Here op verskillende wyses.

Ek praat uiteraard nie van ʼn lewe van blatante onverskilligheid nie. Daar het ons die verantwoordelikheid om mekaar op te skerp en op te roep om terug te keer na die gebaande weë van God se woord.

Ek reken egter dat ons op ʼn verkeerde weg is as ons mekaar begin in- en uitsluit van die koninkryk van God. Daardie besluit berus by God alleen. Gelowiges het een roeping, en een roeping alleen, en dit is om mekaar en ander mense lief te hê.

Per geleentheid het iemand my geskakel en my daarop gewys dat dit my verantwoordelikheid is om ander mense se sonde in die lig te bring en met hulle daaroor te praat. My verstaan is dat die Bybel sê dat die Gees van God mense oortuig van sonde, oordeel en geregtigheid.

Wie ernstig is oor sy verhouding met die Here van die leërskare kan verseker wees dat die Gees van die Here hom sal oortuig van dit wat verkeerd is in sy lewe, ook om hom gereed maak om daarvan afskeid te neem. As dit nie van binne kom nie, is dit nie volhoubaar nie. ʼn Mens moet innerlik oortuig wees wat die pad is wat jy wil loop as jy daarmee volhard.

Kan ons, as gelowiges, nie maar vriendeliker wees met mekaar nie?

Kan ons nie dalk leef soos mense wat self nie gearriveer het nie, maar steeds op reis is met die Here, met sy Gees en sy Woord.

Heiligmaking is ʼn proses, trouens ʼn lewenslange proses. Ons arriveer nooit in hierdie lewe nie. God bly besig om die Jesus-karakter in ons na vore te bring.

Die teks sê julle moet mekaar liefhê. Die teks sê die liefde doen mekaar geen skade nie. Laat die oortuigingswerk oor aan die Heilige Gees. Ontspan, God is in staat om sy werk self te doen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Belangrik om onderskeid te tref tussen veroordeling (wat slegs God toekom) en vermaning (wat ons plig en ‘n liefdesdaad teen ons naaste is), Jannie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.