ToekomsVenster: Vasbyt, daar is ’n uitkoms

(Foto: Stephan Hauman)

“DAAROM gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.” – 2 Korintiërs 4:16 (AFR53)

Die lewe is rof, daaroor is daar geen twyfel nie. Ons word daagliks aan soveel spanning en snellers blootgestel.

Daar is die goed wat gebeur waaroor ʼn mens beheer het, maar ook die goed waaroor ʼn mens geen beheer het nie.

Daar is die goed wat ten onregte van jou gebeur, jy is heeltemal onskuldig in die saak.

Daar is ook die goed waar jy die slegte vrugte pluk van die verkeerde keuses wat jy gemaak het.

Hoe dit ook al sy, ons almal het ons al in sulke situasies bevind en die kans is goed dat sommige wat hier lees en luister tans nie op ʼn goeie plek is nie.

Die woordjie “moedeloos” beskryf dalk jou belewenis raak.

Dalk bevind jy jouself op moedverlore se vlakte?

Miskien weet jy nie watter kant toe nie, jy bevraagteken die sin van die lewe en vra ernstige vrae oor jou verstaan van God se sorg en betrokkenheid by jou lewe.

Hoe werk dit dan, het die Here nie belowe nie? Desnoods soos die Psalmdigter in Psalms 73 vra waarom gaan dit goed met onverskillige mense wat geen erg het aan God en sy gebod nie, en jy wat regtig probeer, kry bykans gedurig die wind van voor.

Belangrike vrae waarmee God nie ongemaklik is nie.

Praat jou hart uit, behou jou respek vir Hom, maar wees so eerlik as wat jy kan wees.

Hy raak nie kwaad nie, wys jou nie tereg nie.

Hoe groot is Hy nie!

Een van die uitdagings wat met aanslae gepaard gaan, is dat ʼn mens perspektief verloor.

As uitkoms nie vinnig aan jou deur klop nie, maak die duiwel die somme in jou kop. “God gee nie om nie, Hy is nie in staat nie en staan verleë teenoor jou uitdagings, jy het gesondig en nou het die Here sy rug op jou gedraai,” word daar in jou oor gefluister.

Jy ken die stories wat hy loop en vertel.

Dit is maklik om in totale wanhoop te verval as jy eers na hierdie leuens begin luister.

So onnodig, kry perspektief.

Dit gaan swaar, feit, maar die lewe is steeds kosbaar. Die lewe het steeds sin. Jy sal weer opstaan, immers, dit is tog nie die eerste terugslag wat jy beleef nie.

Moenie dat die bose jou verhaal skryf nie, trouens, is ons dan nie veronderstel om gelowiges te wees nie?

Is die skrywer van Hebreërs se definisie van geloof dan nie juis vertroue, al val die bodem uit nie?

Haal asem, en as jy uitblaas bely jy dat God groot is.

Vasbyt. Die uitkoms is daar!

“Ons gee nooit moed op nie, ook nie wanneer ons rond gestamp en mishandel word nie. Nee, dan byt ons eers vas, want God is die hele tyd by ons. Hy maak ons elke dag van binne af nuut.” – 2 Korintiërs 4:16 (DB)

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.