ToekomsVenster: Verkondig die volle Evangelie

(Foto: Priscilla du Preez/Unsplash)

Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” – Matt 28:19-20

In ons Bybelstudie by die gemeente kuier ons tans in die evangelie van Markus. Ons het reeds ver gevorder en is tans by die profetiese rede.

Die dissipels wil weet wanneer dinge op die spits gedryf gaan word? Wanneer en wat is die tekens waarvoor hulle moet uitkyk?

Jesus verwys na oorloë, oproere en onrustigheid onder die nasies. Hy praat van hongersnood en aardbewegings. Daar word ook verwys na misleiding en valse aansprake van mense dat hulle die Christus is. Selfs gesinslede draai teen mekaar en vorm partyskappe.

Alles dinge wat hulle erg moes omkrap. Die dinge egter sê Jesus is slegs geboortepyne. Dit is nog nie die einde nie. Wat egter belangrik is dat mense nie angstig word nie maar dat hulle, gelowiges, moet volhard en waaksaam wees. Dan word vermeld dat die Evangelie oor die hele wêreld verkondig sal word. Eers dan sal die einde kom.

Die Evangelie is die Goeie Nuus van verlossing in en deur Christus Jesus. Dit is God se gratis geskenk aan elke soekende mens. Die ou dinge gaan verby en alles word nuut.

Die Evangelie bestaan egter in en uit meer as maak jou reg om hemel toe te gaan. Die mandaat, die roeping is om jou deel te doen dat die hemel aarde toe kan kom.

Vergifnis van sonde is daarvan ʼn belangrike en wesentlike deel, inderdaad. Om egter daar vas te steek is om net die helfte van die waarheid te verkondig. Dit is inderdaad waaroor dissipelskap gaan.

Hoe wil en kan God my gebruik om hierdie wêreld gestadig maar beslis deur my lewe en optrede te beïnvloed?

Niemand word geroep om alles te doen nie maar elkeen word geroep om iets te doen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.