ToekomsVenster: Versorging van die innerlike

Foto: Jon Tyson/Unsplash

Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan. – Matt. 10:28

Die Covid-19-virus sal seker vir nog lank hoofnuus wees. Met talle bevestigde gevalle in Suid-Afrika hou almal asem op terwyl daar gehoop word dat dié virus ʼn vroegtydige dood sal sterf.

Wikipedia gee die volgende definisie vir ʼn virus: “’n Virus is ‘n mikroskopiese parasiet wat selle in biologiese organismes besmet”. Die woorde mikroskopies (subtiel, ongemerk, onopsigtelik, selfs skelm) parasiet ( vyand, teestaander, kiem, organisme) en biologiese (mens en dier) besmet (vuil maak, besoedel, aanval, doodmaak, infekteer) laat my aan ʼn ander virus dink wat baie dodeliker is.

Teen ʼn aanval op die vlees, liggaam of buitekant is daar ʼn aanslag op dit wat binne die mens is, wat onsterflik, ewig, broos en vatbaar is vir besmetting.

Matt.10:28  is ʼn ontstellende teks en laat ʼn mens na jou asem snak. Daar is ʼn besmetting wat uitloop  op die ewige verderf, ʼn toekoms sonder God, hoop, liefde, vrede en rus. Iewers sê die Bybel dat dit beter is om met een hand en een oog die ewigheid tegemoet te gaan, as om met beide funksionaliteite verlore te gaan. Die twee teksverse lê in dieselfde betekenisveld.

Dit is interessant dat die hele wêreld in rep en roer is oor die infeksie van die vlees en dit is gepas. Dit is egter die infeksie van die gees wat meer mense doodmaak, vermink, verneder, verrinneweer en verniel as eersgenoemde.

Dit is baie belangrik om gesond te lewe en jouself fisiek op te pas. Die versorging van die innerlike mens is egter, sonder om eersgenoemde te onderspeel, van ewige belang.

Mag ons opgeskerp raak en so leef dat ons nie die lewe saam met God misloop nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.