ToekomsVenster: Vind jou vreugde

Sonneblom-Reint-Dykema

(Foto: Reint Dykema)

“Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.” – Johannes 10:10 (AFR53)

Ons kleinkind wat pas graad R toe is, en dit in ʼn ander skool as waar hy kleuterskool bygewoon het, bid gisteraand vir die kos. Hy gebruik die geleentheid om sy hart uit te praat. “Dankie vir Mamma, Pappa, Ouma en Oupa. Dankie dat ons kan kuier al gaan ons nie oorslaap nie. Dankie vir die lekker, lekker, lekker dag. Amen.”

Wanneer laas het ons die Here gedank, geloof en geprys vir ʼn lekker, lekker, lekker dag?

Toegegee, om ʼn grootmens te wees bring maar sy eie kwota uitdagings. Klein kindertjies het nie een slapelose nag oor onbetaalde rekeninge, stygende lewenskoste, skoolbenodigdhede en -geld, of selfs ʼn veilige omgewing nie. Dit is waarom daar ʼn ma en pa (ook ʼn ouma en ʼn oupa) is.

Vir kinders – en so hoort dit – is die lewe ʼn avontuur. Netnou se trane is gou-gou vergeet.

Ons het meer eenvoud, vertroue en speel in ons lewens nodig. Ons is te volwasse, het te veel ysters in die vuur, probeer te veel mense tevrede hou, slaap te min en doen van ander dinge te veel in ʼn poging om te oorleef. Ons het verskeie plaasvervangers wat moet opmaak vir ons geroetineerde en voorspelbare lewens.

Daar is nie baie dinge oor wat ons as lekker, lekker, lekker sal beskryf nie.

Jesus sê: “Ek het gekom om aan julle die lewe en oorvloed te gee”. As jy my dit verskoon wil ek dit sommer in eenvoudige taal beskryf as ʼn lekker, betekenisvolle lewe, iets waaroor jy opgewonde kan wees.

Lewe en oorvloed het Jesus belowe. Lekker.

Die Prediker sê “vind vreugde in jou jeug voordat die dae kom”.

Vind jou vreugde in die Here en Hy sal jou gee die begeertes van jou hart.

“Dankie liewe Jesus vir die lekker, lekker, lekker dag. Amen.”

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.