ToekomsVenster: Voel jy die genade?

(Foto: Lampos Aritonang/Unsplash)

“Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.” – Johannes 1:16 (AFR83)

Ek kyk trots na my kleinkind wat aan ʼn atletiekbyeenkoms deelneem. Oupa het net oë vir die negejarige Karlu. Trots paradeer hy sy medalje wat hy ontvang het. Oupa neem ʼn foto, hoe dan anders? Hy bult ewe sy spiere as ek die foto neem. Ek voel hoe die trots in my opwel. “Oupa s’n”, sê ek vir myself, “Oupa s’n”. Dit sê ek trots van al ons kleinkinders.

Oor die luidspreker speel pragtige en opgewekte Afrikaanse melodieë. Mense op die pawiljoene sing onbeskaamd saam. Dit is lekker om mens te wees, te beleef, te sien, te hoor, te voel en trots dankbaar te wees.

Dan sing Jo Black “Voel jy die genade?” en hy sing van die wel en weë van menswees.

Ek haal ʼn paar frases aan:

Hou aan loop

En kyk weer op

Daar’s soveel meer wat op jou wag

Sê my, voel jy die genade?

 

Jy’s net ’n mens

Hy is God

Maar jy sal nooit uit sy hand uit val

Sê my, voel jy die genade?

 

Maak net jou arms oop

Laat die trane loop

Sê my, voel jy die genade?

Dis interessant dat hy spesifiek op die gevoel van die mens fokus.

Nie glo jy die genade nie, ja dit ook. Nie ontvang jy die genade nie, seker dit ook. Nie omhels die genade nie, inderdaad ook ʼn faset; maar voel jy, beleef jy, tintel dit in en deur jou omdat die genade van God jou deel is.

Ek het jare gelede ʼn liedjie gesing waarvan die lirieke as volg geklink het:

Kyk net ʼn bietjie om jou rond

En dan sal jy sien

Al die kleure wat die veld voorsien

Dan weet jy God is daar

Dan weet jy God is daar.

Dalk kyk ons nie meer nie, en as ons kyk sien ons nie meer nie, en as ons sien gryp dit ons nie meer aan die hart nie.

Sê my, voel jy die genade?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Ja Here ek voel U genade elke dag van my lewe is net genade…Amen

Koen ·

Die trane moet loop, die trane moet vloei. Sonder trane, geen genade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.