ToekomsVenster: Vryval in en op God se genade

drukkie-paartjie

(Foto: Skitterphoto/Pexels)

“Ek het die Here aangeroep en Hy het my geantwoord, Hy het my gered uit alle doodsgevare. Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap, hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie.” – Psalms 34:5-6

Vroegoggend is dit vir ons lekker om die voëltjies in die tuin kos te gee. Letterlik honderde mossies en vinkies, duifies en selfs loeries daag op vir die gratis ontbyt.

Skaars nadat ek die voëltjiesaad op die sement gestrooi het, vryval tientalle geveerde vriende uit die groot koeltebome agter in ons tuin. Dit is ʼn lieflike gesig om te aanskou.

Daar kom uitdagende omstandighede in elkeen se lewe, dit is onafwendbaar. Ek glo dat die Here wil hê dat ons alles van ons kant af moet doen om ʼn saak te beredder. Na alles, het ons mos sy Gees en sy Woord en die vele beloftes wat daarin vervat is. Daarmee kan ons ver vorder.

Daar is egter omstandighede wat jou spreekwoordelik met jou rug teen die muur laat en waarin jy nie weet wat om te doen nie. In sulke tye is die Here nie afwesig nie, maar volgens sy belofte steeds by en met ons.

In sulke tye het ʼn mens nie ʼn ander keuse as om as’t ware te vryval in sy genade-arms nie. Daar is dit veilig.

Somtyds bid mense vir siektes waarmee die dokter spreekwoordelike “opgegee” het. Dan is hulle geneig om te sê: “Ons kan nou niks anders doen as om te bid nie”.

Gebed is natuurlik nie die laaste uitweg om te probeer wanneer al die ander dinge misluk nie. Gebed is ʼn gebedshouding, dit is die manier waarop ʼn Christen leef.

Daar is omstandighede waarin ʼn mens druk ervaar en letterlik niks anders kan doen as om God te vertrou nie. Ons Vader is getrou en sy Woord betroubaar. Hy staan self in vir die geloofwaardigheid daarvan.

Daar is dus ʼn delikate balans tussen dit wat ons kan doen en dit wat ons nie kan doen nie. In omstandighede waar die lewe jou oorweldig en jy nie meer weet watter kant toe nie, mag jy maar vir die Here sê: “Nou vryval ek op en in U genade-arms. Here help, ek weet nie watter kant toe nie”.

Miskien is dit vandag jou konteks.

Waag dit met die Here. Hy sal jou nie teleurstel nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.