ToekomsVenster: Waar is die vissie?

(Foto: zhengtao tang/Unsplash)

“Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ʼn pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.” – Jesaja 43:19 (AFR83)

Ons gesels hierdie week oor klaarmaak, afskeid neem en aangaan met die gawe wat ons lewe noem. Die ervaring is nie aan ons lewensjare gekoppel nie. Dit gebeur soos ʼn mens se lewe ontvou. As ʼn mens sensitief is daarvoor en die Here vertrou, is daar belangrike rigtingwysers betrokke.

ʼn Mens wil tog nie God se bedoeling met jou lewe misloop nie.

Die bekende uitspraak – spreek Heer U dienskneg en diensmaagd luister – het betrekking. Die Bybel praat van mense wat siende blind en horende doof is. Dit mag nie van ons ʼn beskrywing wees nie. Spits jou ore en maak oop jou oë, die Here wil steeds met jou praat.

Ek het Maandag begin deur te vertel van die uitdagende dag wat ek beleef het. Soms moet die Here ʼn bietjie troebelweer stuur om ons aandag te trek. Ek reken dis wat gebeur het.

Soos wat die dag vorder, word ek bewus van verskeie metafore. Ook hierdie ervaring is ʼn metafoor met ʼn les wat dalk ook vir jou belangrik mag wees.

Ek het jare gelede, kan dit ses of agt of selfs tien jaar gelede wees, betrokke geraak by gemeenskapswerk. Dit het redelike organisasie gevra en ons het ʼn klein maar doelmatige gebou teen vriendelike tariewe bekom. Die verwaarloosde gebou is reg getimmer en funksioneel gemaak.

Met ons aftrede moes ons na ʼn kleiner plekkie skuif (dis nou ek en my engel). Ons kon nie alles wat ons had by die nuwe huis inpas nie en sommige van die ekstra meubels kon gemaklik daar aangewend word. Ook die sement-visdammetjie met die standbeeld van ʼn Afrika-vrou wat daarin geposisioneer is. Die beeld staan in die water, genoeg om ʼn vissie of ses te huisves.

Die dammetjie kry staanplek reg voor die ingang van die gebou met die klompie visse daarin. Ongelukkig is daar voëls wat prooi op visse en benewens een, word almal peuselhappies. Een byt egter vas en maak spore na die holte onder die beeld wanneer die gevaar dreig.

Almal praat oor die vis wat nie moed opgee nie. Die vis is ook ʼn simbool van my betrokkenheid by die struktuur.

Solank as wat ons in die gebou is, is die vis daar. Tot nou die dag toe.

Ek het ʼn afspraak by die gebou en merk op dat daar net ʼn effense modderigheid onder in die bak is. Die vis, my vis, my sekuriteit en simboliese verwysingsbron, is weg.

Navraag bevestig die ergste, die vis is dood.

Dit voel of ek ʼn familielid verloor het. Ek is na aan trane. Niemand het eers gedink om my daarvan te sê nie (daar is meer mense betrokke by die gebou), redeneer ek by myself.

Nog ʼn stuk sekuriteit wat weg is. Die boom en nou die vis.

Feit van die saak is dat ek al ʼn geruime tyd voel die Here sê die fase het verbygegaan. Ek hou vas maar Hy wil iets nuut doen. Die Here sê, Hy is ernstig, al moet Hy met my praat deur die vis wat nie meer daar is nie.

Gek, dom, lagwekkend, snaaks, ʼn grap – mag so wees, maar rigtinggewend vir my lewe.

Wat is daar wat nou doodgegaan het sodat jy aan die beweeg moet kom?

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie vir die mooi boodskap…..ek leer vandag ook iets uit die boom en vissie storie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.