ToekomsVenster: Waar lê die fout?

lig-sonskyn-herfs-blare

Argieffoto (Foto: Kaique Rocha/Pexels)

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” – Mattheüs 11:28-30 (AFR53)

Dit is my voorreg om weekliks op ʼn bekende radiostasie ʼn sogenaamde Christelike perspektief op die nuus te gee. Dit is ʼn beskeie poging om vanuit ʼn mens se eie verstaan, en teen die agtergrond van jou oortuiging dat die Here met hierdie wêreld op weg is, ʼn mening te waag oor gebeure hier en elders.

Ek deel graag hierdie week se gedagtes met jou asof ek dit vars en nuut doen.

Sou ek ʼn aantal mense (jy is deel daarvan) in ʼn vertrek, noem dit maar ʼn konferensie van die een of ander aard, bymekaar trek en hulle vra om ʼn lysie te maak van hoe hulle die wêreld waarin ons woon beleef, sal dit inderdaad ʼn interessante oefening wees. Uiteraard sal die meeste van ons onmiddellik aan ons dierbare land Suid-Afrika dink. Dit is die spasie waarin ons onsself bevind en teen die agtergrond van die naderende algemene verkiesing word ʼn mens al hoe meer bewus van die uitdagings wat hier gedy.

Ek dink nie ek is verkeerd as woorde soos ontstellend, deurmekaar, onveilig, onstabiel by die lysie ingesluit is nie. Korrup, misdadig, wreed, ontstellend, stukkend mag ook verskyn. Sommige sal by die politiek aansluit en Suid-Afrika as ʼn mislukte staat, wanfunksioneel, bankrot, selfs op die rand van die afgrond, beskryf.

Ek dink nie dat enige van hierdie terme vergesog is nie. Ons is inderdaad baie bekommerd oor ons land en ek is seker dat dit ʼn belangrike gebedstema verteenwoordig.

Nou gaan ons oor tot ʼn tweede oefening. Ek vra dat jy ʼn aantal woorde neerskryf wat jou lewe, dalk die van die mense wat jou leefwêreld deel, beskryf.

Dalk sou woorde soos onvergenoegd, teleurgesteld, mismoedig, depressief, neerdrukkend, vasgevang, hopeloos, uitgeput, moeg en ontwrig neergeskryf word. In sommige gevalle sou dit meer intens wees, desperaat, kritiek, selfs naby aan opgee wees.

Ek is nie seker dat ek baie woorde soos opgewonde, vervuld, gelukkig, dankbaar, vrolik, geseënd en hoopvol sou sien nie. Dalk is ek verkeerd, maar dink maar aan jou eie lewe en die van ander. Hoe praat ons, waarvan praat ons en wat sê ons.

Soos die lied sê, spreek ons lewe of spreek ons dood?

Ek hoop dat jy die korrelasie tussen die toestand van die land en die gehalte van jou en my lewe eien.

Die vraag is natuurlik, wat is eerste, die hoender of die eier?

Is dit die land wat ons mismoedig stem of stem ons die land mismoedig. Reflekteer Suid-Afrika ons eie, vergewe my, bankrotskap en wat moet gebeur dat daar ʼn verandering kan kom?

Selfs politieke partye speel op dieselfde negatiewe snaar. Punte word gestapel deur van ander karikature te maak.

Die land is sy mense en die mense is die land. Dis tog nie ʼn grootheid naas ons nie.

Dalk, net dalk, lê die fout veel nader as die parlement.

Dalk lê die fout, of ʼn deel van die uitdaging, in ons eie menswees.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.