Om oor die liefde te praat laat die hart sommer warm klop. Die gedeelte in 1 Kor. 13 is baie gepas. Ek het ʼn besondere gewaarwording wanneer ek die gedeelte lees en vir my eie lewe oorweeg. Wat die liefde nie is nie – eie belang, selfsugtigheid, boek hou van die kwaad, ens. is baie gemaklik by my teenwoordig. Ek hoef myself nie eers daarin te oefen nie. Dit kom sommer vanself en baie gemaklik. Dis in my DNA.
Wat die liefde is, is egter ʼn ander storie. Daarmee worstel ek meermale. Dis teen my grein in en kom nie natuurlik nie. Uiteraard is dit so omdat liefde na God se bedoeling nie natuurlik is nie, maar bo-natuurlik. Dis Goddelik en geïnspireerd. Dis ʼn gawe van die Heilige Gees.
Ek is nie alleen in my worsteling nie. Paulus sukkel ook met die stryd tussen die natuurlike en geestelike mens. Hy beklae sy lot dat wat hy wil doen nie geredelik by hom aanwesig is nie. Wat hy nie wil nie kom sommer vanself. Net God in Christus gee hoop vir hierdie hopelose en troostelose stand van sake. In en deur Hom kan ons in oorwinning leef. Vra die Heilige Gees om jou te bekwaam vir God se liefde teenoor ander mense.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za