ToekomsVenster: Wat het die Here vir jou belowe?

(Foto: Zach Vessels/Unsplash)

“… want Jesus Christus, die Seun van God, wat ons, dit is ek en Silvanus en Timoteus, aan julle verkondig het, is nie “ja” en “nee” tegelyk nie. Hy is die “ja” van God, 20die “ja” op al die beloftes van God.” – 2 Korintiërs 1:19

Ek vertrou die Here vir ʼn belofte waarmee ek elke nuwe jaar tegemoet kan gaan. Hy is getrou daarin dat Hy my elke jaar daarin ontmoet. Hierdie jaar se belofte kom uit Psalms 32:8.

Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.”

Hoe gerusstellend om te weet dat te midde van talle persoonlike en tientalle ander uitdagings, die Here soveel in ʼn mens belangstel.

Ek sal so graag wil hoor watter belofte die Here vir jou gegee het vir hierdie jaar? Dit is uiteraard ook nooit te laat om te vra dat Hy jou geestelik sal opskerp sodat jy sy belofte vir jou kan raak hoor nie.

Dit kom soms op ʼn verrassende wyse na jou toe:

  • Iemand stuur ʼn Bybelversie oor sosiale media en jy weet net; dit is vir my bedoel.
  • Jy lees die Bybel in jou stiltetyd en dit lyk asof die versie uit sy plek wil klim om jou aandag te trek.
  • Jy bid en skielik herinner die Gees jou aan ʼn Bybelse waarheid wat in jou gees gestort is en vir ʼn tyd soos nou bedoel is.

Beloftes van die Here het ʼn bepaalde aard en gehalte. Dit is nie teregwysend nie. Dit laat jou nie moedeloos, verslae en leweloos nie. Veel eerder gee dit jou energie om hemelwaarts te kyk, God se hulp, troos, nabyheid en omgee vir jou as persoon toe te eien en daagliks daaruit te leef.

Jy skryf langs die belofte in jou Bybel die datum, 2023. Jy skryf dit uit en plak dit teen jou spieël. Jy skryf dit in jou dagboek, maak nie saak waar nie, solank jy meer as gereeld daaraan herinner word.

Beloftes laat jou dankbaar, diep getref deur die waarheid dat die Here jou persoonlik raakgesien het.

Beloftes kan uiteraard ook vir gemeentes, egpare, kinders, jou werkplek, waar ook al die Koninkryk van God moet gestalte kry, gegee word.

Die Woord is ryk aan beloftes.

God wil graag na jou omsien. Gee Hom die geleentheid om jou met sy Gees en Waarheid te bedien.

Wat is die belofte wat die Here vir jou gegee het? Laat weet my gerus by [email protected]

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.