ToekomsVenster: Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes

saad-saaier-rys

Foto: Pixabay/Pexels.com

Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes. – Gal. 6:7-8

Die wetmatigheid wat hier demonstreer en onderstreep word, is op alle soorte saad van toepassing.

Dit is so dat nie alle saad wat gesaai word heilsaam is nie. Sommige saad getuig van goeie gehalte en dra die belofte van ʼn belowende oes wat die landbouer en ander tot voordeel sal strek.

Ander saad is van bedenklike gehalte en gaan niks meer as onkruid oplewer nie. Die teks in Galasiërs stel dit duidelik: God laat Hom nie bespot nie.

Dit is ʼn harde woorde vir mense wat dink dat hulle kan voortgaan met dinge wat by die duisternis hoort. Dat die saad ʼn oes gaan lewer is absoluut so, en dat daardie oes gaan teleurstel is eweneens waar.

Mens kan vir jouself en ander leuens vertel, jy kan jouself en ander probeer oortuig dat waarmee jy besig is die toets van die tyd sal deurstaan. Daar kom egter ʼn dag dat die boeke geopen sal word en elkeen geoordeel sal word volgens wat hy gedoen het, goed of sleg.

Om te dink dat jy ander kan afknou, oordeel en veroordeel, kritiseer en verkleineer, spot en bespot, skade van allerlei aard kan berokken en daarmee gaan wegkom is wensdenkery. Dit gaan jou inhaal.

Die ou mense het gesê: “God slaap nie”.

Dank die Here dat die teendeel ook waar is. As ʼn mens in opregtheid die vrug dra wat by die bekering pas en dit in diens van ander plaasvind sal die oes nie uitbly nie. God beloon die wat Hom vertrou en sy eer voorop stel.

Mag ons ook vandag op die akker van die Gees en geloof saai. Die oes sal nie wegbly nie. Ons sal dit op die bestemde tyd insamel en die Here daarvoor dank.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.