ToekomsVenster: Wees versigtig vir jou eie hart

hart-tou-boek

Foto: Congerdesign/Pixabay.com

Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand, Ek laat die mens kry wat hy verdien, wat hom toekom vir wat hy doen. – Jeremia 17:10

Die hart is ʼn metafoor vir ʼn mens se binnewêreld. Die Bybel het baie te sê oor wat in die hart van ʼn mens aangaan. Dit kan somtyds onstuimig raak in ʼn mens se hart na mate jy met die realiteite van hierdie lewe gekonfronteer word.

Nie almal bedoel dit vriendelik en opreg met jou nie en die omgekeerde is sekerlik ook waar. Die lewe gebeur om dit sagkens te stel en wat gebeur is somtyds onverkwiklik en seer.

Tensy ʼn mens jou hart bewaak en moniteer maak spoke baie gou hul woning daar. Dit is nie lank nie en die onwelkome onsigbare en vreesaanjaende gaste begin jou lewe oorheers. Jy dink jy is in beheer totdat iets onvoorsiens en ontstellend gebeur. Jou geheue word onmiddellik geprikkel en al die onregverdige dinge wat jou te beurt geval het doem voor jou op. Voor jy jou kan kry het erge ontsteltenis van jou besit geneem.

Selfbejammering, verwyte, onvergewensgesindheid, rasionalisering, vergoeiliking, verskoning en ‘n soort slagoffer mentaliteit word in jou geaktiveer. Jou eie rol in die ongelukkigheid tree op die agtergrond en jy staan misbruik en geviktimiseer uit.

Die Bybel leer dat die hart onbetroubaar kan wees, gebruik selfs die woord bedrieglik.

Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan? – Jeremia 17:9

Jou hart kan jou manipuleer om dinge te sê en te doen wat jy andersins nie sou gedoen het nie. Spreuke het die volgende te sê oor die hart:

Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. – Spreuke 4:23

Die enigste antwoord is inderdaad om nie spoke in jou lewe en jou hart toe te laat nie. Wees gou om vry te spreek en te vergewe. Laat die negatiewe in die asdrom van onnodige en onwelkome gevoelens beland. Weier net om ‘n slagoffer te wees. Kyk die lewe in die oë en bely wat God van jou sê.

Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra. – Jeremia 29:13

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.