ToekomsVenster: Wie vertrou jy?

(Foto: Sweetlouise/Pixabay)

U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae. – Psalms 23:6 (AFR83)

As jy my dit verskoon deel ek hierdie week ietwat van my eie lewenservaring en die getrouheid van die Here in alle opsigte. Ek is daarvan oortuig dat jy eweneens wonderlike verhale het om te vertel van hoe die Here daar was toe die nag op sy donkerste was.

Ek het gister verwys na die huis waarin ons ons intrek geneem het nadat ek vir ʼn periode voltyds gaan musiek maak het. Lof en aanbidding was nog altyd ʼn belangrike faset van my verstaan van wat in die erediens gebeur.

Omdat ek van kleintyd gesing het en leer klavier speel het, kon ek hierdie droom uitleef. Merkwaardige geleenthede het op my pad gekom en ek het guns op guns beleef.

Psalm 23 sê immers dat goedheid en guns ons sal volg.

Guns in die vorm van oop deure wat jy nie bedink of voorsien het nie. Ek kan naam op naam neerskryf van mense wat in alle opsigte agteroor gebuig het om te help dat ek hierdie bediening kon uitleef. Ek vertrou dat ek tog op ʼn manier dit ook vir ander kon doen.

Ek wil tog ʼn staaltjie met ʼn lessie daarby deel.

Die Here het vir ons ʼn belofte gegee wat rigtinggewend was in daardie tyd. Die woorde “God sal sorg” was as ʼn getuienis en belydenis op ʼn bordjie op die sypaadjie voor ons huis staangemaak. Die bedoeling was om mense wat daar verby ry te bemoedig met wat ons as ʼn realiteit ervaar het.

Soos alle verantwoordelike mense het ons egter ook ʼn veiligheidsmaatskappy se dienste bekom om die nodige veiligheidsmaatreëls by die huis aan te bring. Suzette en die kinders was dikwels alleen en dit was die regte ding om te doen.

Die oulike maatskappy se naam was, is steeds, Thompsons.

Hulle het ʼn bordjie teen die heining opgesit met die woorde “Protected by Thompsons”.

Op ʼn dag kuier ʼn predikantkollega by my en by sy vertrek merk hy op dat hy sien dat ons aan alle kante beveilig is. Ek kon nie dadelik verstaan waarna hy verwys nie.

“God sal sorg en Protected by Thompsons,” het hy opgemerk.

Die twee sake staan nie teenoor mekaar nie, maar ek het tog gewonder hoeveel vertroue ek regtig in God het en hoeveel in my eie planne.

Ek dink die Here verwag dat ons albei doen, maar om van tyd tot tyd net te vra vir wie jy nou eintlik vertrou, is nie ʼn ongesonde oefening nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.