Gedagte vir die dag: ‘n Tyd soos hierdie

Foto: Pixabay

As jy in hierdie tyd gaan stilbly, gaan uitkoms en redding vir die Jode van ’n ander plek af kom. Jy en jou familie sal dan uitgewis word. Wie weet of dit nie miskien juis met die oog op ’n tyd soos hierdie is dat jy koningin geword het nie! (Ester 4:14)

Tydens die bewind van koning Ahasveros het die Jode uitwissing in die gesig gestaar.  Hulle enigste hoop het gelê in die pragtige jong vrou wat nou sy koningin was.  Die probleem was net, hierdie spesifieke koning het ’n reputasie gehad dat hy om die geringste redes van sy koningin ontslae kan raak.  Die feit dat koningin Ester nie haar nasionaliteit aan die koning bekendgemaak het nie en nou die vermetelheid gehad het om sy oordeel te bevraagteken, was beslis meer as genoeg rede vir hom om vir haar kwaad te raak.

Gelukkig het Ester se familielid, Mordegai, nie God se beloftes uit die oog verloor nie.  Hy het die feit beklemtoon dat Ester nie per toeval in die paleis beland het nie, want sy het dalk “juis met die oog op ’n tyd soos hierdie” koningin geword.  Mordegai het geweet God sou sy volk red, en hy was bereid om sy geliefde niggie se lewe daarvoor te waag.  Die vraag was nie of die volk gered sou word nie – dit het seker en vas gestaan omdat God dit belowe het.  Die vraag was of Ester genoeg moed en geloof sou hê om ’n instrument in God se hande te wees.

Wat is jou “tyd soos hierdie”?   In watter unieke posisie het God jou geplaas? Watter unieke talent of geleentheid lê nou voor jou?  As God jou roep om op te tree, skep moed uit die feit dat Hy sy doelwit in jou lewe en in die wêreld sal bereik.  Gaan dan uit en vertrou dat God dit sal doen. Moenie jou oomblik misloop om deel van God se verlossingsplan te wees nie.

Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys. – Spreuke 3:5-6

Bron: In die skadu van die Allerhoogste deur Nancy Taylor & Chris Johnsen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.