Video: ‘God het my nooit verlaat nie’

Lorena het alles verloor toe rebelle haar tuisdorp aangeval het (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Die afgelope paar jaar word Christene in die noorde van Mosambiek getref deur die mees gewelddadige vervolging aan die hande van ekstremiste. Talle mense in ons buurland moet weens dié geweld in haglike omstandighede ʼn nuwe heenkome soek.

Lorena* is een van duisende mense wat deur die opstande ontwortel is. Sy is oorspronklik van ʼn vissersdorpie in die noordelike streke van Mosambiek, maar moes saam met haar kinders ʼn nuwe lewe elders begin nadat sy alles verloor het.

Grusame aanval

Al-Shabaab-rebelle het hul dorpie vroeg verlede jaar aangeval. Dit was ʼn gewone dag, met die vroue en kinders wat vreedsaam met hul dagtake besig was terwyl die mans op die bote uit was om te gaan visvang. Toe die vroue en kinders hoor dat die rebelle op pad was, het hulle uit die dorp gevlug en in die veld weggekruip.

Die aanvallers het die mans gevang toe hulle van die viswaters af terugkom. Hulle het die vroue en kinders in die veld gevind – maar in plaas daarvan om hulle dood te maak, is hulle aan ʼn veel groter marteling blootgestel…

Die rebelle het die vroue en kinders gedwing om die brutale moord van hul mans, vaders en broers te aanskou. Hierna is hulle sonder heenkome agtergelaat om na hulself om te sien. Dit het Lorena met baie kindermonde gelos om te voer.

Vlugtend sonder ʼn heenkome

“Ek en my gesin het geweet dat ons nie na ons dorp kon terugkeer nie, so ons het gevlug. Ek moes in ʼn stadium vir 22 dae sonder kos klaarkom, maar het vasgebyt omdat ek geweet het my kinders het my nodig. Ons het gesoek vir iets om te eet, maar al wat ons kon kry was piesangblare. Ons het dit gekook om dit eetbaar te maak,” vertel sy.

Lorena en haar gesin het vir ʼn rukkie by haar niggie gebly, maar sy het dit later duidelik gemaak dat hulle nie meer welkom was by haar nie en dat hulle ʼn ander blyplek moes soek. Hulle het geen heenkome gehad nie.

ʼn Nuwe lewe…

Hoewel Lorena die traumatiese aanval nooit sal vergeet nie, is haar geloof in die Here rotsvas (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Met behulp van Geopende Deure se plaaslike vennote het sy en haar oorlewende gesinslede egter na ʼn ander dorp gevlug, waar hulle nou bly. Hoewel hulle nou veilig is, is hul daaglikse lewe steeds vol uitdagings en swaarkry.

Geopende Deure het in 2021 noodleniging aan sowat 4 000 ontwortelde mense in Mosambiek voorsien, insluitende Lorena en haar familie. In vennootskap met die plaaslike Kerk is Bybels, voedsel, kombuisgereedskap, beddegoed en ander basiese benodigdhede aan dié mense voorsien.

“Baie dankie aan Geopende Deure vir die bystand. Julle hulp stel my in staat om vir my kinders kos te gee. Ons is baie dankbaar, ook teenoor God. Mag God julle seën en altyd beskerm,” sê sy.

Rotsvaste verhouding met God

Maande ná die wreedaardige aanval op haar dorp bars Lorena steeds in trane uit as sy daaroor praat. Die traumatiese ervaring is in haar geheue vasgemessel, maar haar geloof in God bly rotsvas. “My volle vertroue is in God. Hy het my nooit verlaat nie. Hy sorg vir my en familie, en dit is die enigste rede waarom ons nog leef.

“Genadiglik is ek in Christus geanker. My verhouding met God is op ʼn goeie plek – ek lees die Bybel, gaan Sondae kerk toe en bid voortdurend dat Hy my en my familielede die krag sal gee om die verlede agter te laat en aan te beweeg,” getuig sy.

Lorena en baie ander ontwortelde Christene in noordelike Mosambiek het steeds ondersteuning nodig om te oorleef en ondanks die voortdurende vervolging staande te bly. Hulle het veral emosionele ondersteuning nodig om van hul geestelike wonde te genees.

Word ʼn gebedsvennoot

Een van die belangrikste maniere waarop ons getraumatiseerde Christene in Mosambiek kan ondersteun, is deur vir hulle te bid. Laai vandag jou GRATIS gebedskalender af en word ʼn gebedsvennoot van Geopende Deure.

*Naam verander weens sekuriteitsredes.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.