Video: Helpende Hand wil hoop laat vlam vat

Hannes Noëth die besturende direkteur van Helpende Hand. Foto: Reint Dykema.

Helpende Hand het pas twee inisiatiewe bekendgestel in ’n poging om ons land se mense meer “hoopfiks” te maak.

“Helpende Hand se tema in 2018 was Met Hart. In 2019 was dit In Krag en vanjaar is dit Tot Hoop. Alle projekte wat Helpende Hand aanpak, word met hart, in krag gedoen om tot hoop te lei,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.

“Dit is vir Helpende Hand baie belangrik om geestelike en kulturele armoede ook aan te spreek en nie net fisiese armoede nie – daarom is die inisiatiewe, Helpende Woord en die Hoopfiksgids, van stapel gestuur.”

Helpende Woord bestaan uit ’n reeks geestelike boodskappe wat gratis op sosialemediaplatforms beskikbaar is vir enigiemand om te kyk.

“In ’n gejaagde lewe met dikwels beperkte data tot ons beskikking, bied Helpende Woord weeklikse geestelike pitkos om hoop te skep. Elke episode is tussen drie tot vyf minute lank waarin eenvoudige Bybelse waarhede visueel vir die sosialemediagebruiker aangebied word. Sodoende word die goeie nuus van hoop enige tyd en enige plek toeganklik gemaak vir almal wat oor ’n selfoon, tablet of rekenaar beskik,” sê Noëth.

Die Helpende Woord-oordenkings word deur Woorde uit sy Woning vervaardig. Ds. Gustav Opperman is die aanbieder en die redigering word deur Ina Opperman behartig.

“Dit is ons roeping om in ons YouTube-kanaal (Woorde uit sy Woning) deur Skrifgetroue preke, Bybelstudies en Kategismusuitleg die Evangelie van Jesus Christus te versprei in Suid-Afrika en orals in die wêreld waar gelowiges ’n behoefte het om Die Woord te hoor,” sê ds. Opperman.

Die Hoopfiksgids is opgestel deur die bekende sielkundige, skrywer en lewensafrigter dr. Eugene Kemp, en bied 11 riglyne oor hoe om hoopfiks te word en te bly.

“Hoop word nie bepaal deur jou omstandighede nie,” verduidelik dr. Kemp. “Hoop is nie net ‘n gevoel of ’n wens nie, byvoorbeeld as jy gaan vir ’n werksonderhoud of hoop vir ’n gemaklike parkeerplek naby die winkelsentrum se ingang nie. Hoop het ’n geestelike perspektief! Hoop is ’n hoekpilaar saam met geloof en liefde. Ware hoop is met ware geloof en liefde ingebed. Ware hoop regverdig sy sinvolle bestaan in ’n verhouding met die lewende God.”

Besoek helpendehand.co.za/hoopfiksgids om die volledige gids te sien of af te laai.

Kyk hier na die eerste episode van Helpende Woord. Teken aan by dié YouTube-kanaal om die ander programme te sien of hou Helpende Hand se Facebook-blad dop. Daar word elke Vrydag ’n nuwe Helpende Woord-program gelaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.