Vlog vol waarheid: Word jy deur die horlosie regeer?

Ons leef in ʼn era waarin almal se lewens ʼn dolle gejaag is. Dag na dag jaag ons om dinge klaar te kry en by alles te probeer uitkom. Huiswerk, kosmaak, take, sport, kultuur, kuier, verhoudings, vriende, ensovoorts.

Om by alles uit te kom is natuurlik ʼn uitdaging, en soms besef ons nie dat tyd op sy eie ʼn manier ʼn afgod vir ons geraak het nie. Tyd regeer dikwels ons lewens. Soms dink ons as ons skedules vol is, maak dit ons op ʼn manier belangrik, nie waar nie?

Ons word geloof vir ons vol programme. Om een of ander vreemde rede kry ons ʼn soort status deur besig te wees. Ek glo dat dit baie keer die duiwel se manier is om ons fokus weg te vat van dít wat werklik belangrik is.

Het jy al ooit iemand gehoor wat aan die einde van sy of haar lewe gekom het en gewens het dat hy of sy meer werk gedoen kon kry? Nie sommer nie. Die grootste spyt is gewoonlik dat die persoon nie meer tyd met sy of haar geliefdes deurgebring het, meer vir mense rondom hulle gedoen het, of meer van hul tyd en geld gebruik het om uit te reik na ander nie.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek sê nie hiermee dat om tyd te bestee op werk ʼn verkeerde ding is om te doen nie. Wat ek wel sê, is dat dit nie al moet wees waarop jy jou tyd en geld bestee nie.

Mauritz Zietsman (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Jy was heel waarskynlik al in jou lewe aan die ontvangkant van ouers of familie wat jou afgeskeep het omdat hulle te vasgevang was in hul werk of ander verpligtinge. Jy moes dalk agter in die ry gestaan het wanneer daar deur die doenlysie gedraf is en gejaag is om vergaderings uit te kom. Dis nie altyd die lekkerste ding nie, is dit?

Jý kan die generasie wees wat hierdie manier van lewe verander. Dit vat letterlik net een generasie om die ketting te breek.

Jy kan kies of jy die generasie wil wees wat tyd het vir jou geliefdes en tyd maak om uit te reik na mense toe wat dit regtig nodig het, of jy kan die generasie wees wat in die vorige generasies se voetstappe volg.

Niemand wil aan die einde van hul lewe kom, terug kyk en spyt wees oor die manier hoe en die dinge waarop hulle hul tyd bestee het nie. Ek wil jou uitdaag om hierdie week ʼn bietjie te dink oor waarop jy jou tyd op bestee. Lyk dit positief of negatief?

Net jy gaan hierdie antwoord vir jouself kan gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

charmaine ·

Ek dink in sekere stadiums van ons lewe is tyd ons baas. BV wanneer jou kinder klein is of op skool dan hou die skool programme mense besig. Maar dis waar die geheim(vir myself) le. Nou is ons amper 50 jariges, ons kinders werk oudste staan op trou. Nou besef jy daar is ander ding in die lewe wat ons as ouers nou kan geniet en waar jy besluit tyd is nie jou baas nie, nou maak jy kos wanneer jy wil, jy sit buite met n wyntjie en dalk n braaivleis vuur, ek hou van lees so ek maak seker ek lees elke dag. Winter tye is ek tussen 7&8 in die bed met n boek want dis my eie tyd.
Mense moet ook n stokperdjie in werk vir die slag wat die kinders die huis verlaat en jy jou tyd gebruik om iets vir jouself te doen of wat lekker is ek en my man maak tyd een keer n jaar om vir n week met vakansie te gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.