Gedagte vir die dag:  Voorlopig

Kronkelpad_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Hebreërs 2:1-9

Nou sien ons nog nie dat alle dinge reeds aan die mens onderwerp is nie. Maar ons sien Jesus, met eer en heerlikheid gekroon op grond van sy lyding en dood. Hy is ‘n kort tydjie minder gemaak as die engele, sodat Hy deur die genade van God vir almal sou sterwe. (Hebreërs 2:8-9)

Nee, sê die Hebreërsskrywer en haal uit Psalm 8 aan, ons verstaan nie so lekker hoe dit werk dat God alles aan die mens onderwerp het nie. Trouens, ons verstaan daar bitter min van. Dit is so duidelik soos daglig dat dinge buite ons beheer is. Daar is niks van hierdie sogenaamde onderwerping sigbaar nie.

Daarom, sê die skrywer, moet ons maar glo wat ons gehoor het. Vasklou aan die belofte. Sorg dra dat ons nie afstand doen van die hoop op “eendag” nie. Eendag wanneer ons wel sal verstaan, eendag wanneer alles sigbaar en begrypbaar sal wees.

Tot dan het ons net vir Jesus. Kyk maar na Hom, sê die skrywer. Dit is al wat help. Voorlopig is dit – Hy, hierdie Jesus – ons enigste hoop op begrip. As ons nie verstaan nie, kyk na Hom. As ons niks rondom ons sien wat op die skepping se onderworpenheid dui nie, hou Hom in die oog.

Die skrywer sou dit aanstons weer sê toe hy gelowiges aanmoedig om vol te hou en uit te hou in die maraton wat ons “die lewe” noem: “Hou Hom voor oë … Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie” (Heb 12:3).

Tog vreemd, nie waar nie? Kan daar nie vir ons ’n kragtiger voor- beeld wees nie? ’n Held om na op te sien? Moet ons tevrede wees met Een wat gely het, wat “verdra het”? (Heb 12:3).

Is dit, is dít my Koning? Hý?

Klaarblyklik, ja. Daar is niemand anders nie. Sy voete het wel gebloei, maar hulle was nie van klei nie. Sy hande was vasgenael, nie in ’n vuis gebal nie. Hy was volledig onderworpe, sodat ons uiteindelik kan triomfeer.

Ek het net vir U, Here Jesus. U is genoeg. Tot eendag, én daarna.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here U is Algenoegsaam….help my om nooit my oog van die wenstreep af te haal nie….U Genade is vir my genoeg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.