Gedagte vir die dag: Wapens vir die sending

vyeboom-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

… “(T)oe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien”. (Johannes 1:48)

Aanbidding in alledaagse omstandighede. Ons veronderstel dat ons gereed sal wees vir die stryd indien ons voor een of ander groot krisis te staan sou kom, maar dit is nie die krisis wat iets in ons opbou nie, dit openbaar slegs die staal waarvan ons reeds gevorm is. Vind jy dat jy sê: “As God my oproep tot die stryd, sal ek doen wat Hy van my verwag?” Tog sal jy nie in die stryd kan doen wat God verwag nie tensy jy dit reeds op God se opleidingsterrein gedoen het. As jy nie die taak volbring wat op hierdie oomblik deur God se werking aan jou opgelê is nie, sal jy, wanneer die krisis opduik, vind dat jy heeltemal ongeskik vir die stryd is. Krisisse onthul altyd ’n persoon se ware karakter.

’n Persoonlike verhouding waarin jy God aanbid, is die noodsaaklikste element van geestelike paraatheid. Die tyd sal aanbreek, soos vir Natanael, waar ’n privaat, “vyeboomlewe” nie meer vir jou sal moontlik wees nie. Alles sal in die openbaar kom en jy sal vind dat jy daar van geen waarde is as jy God nie elke dag, in die alledaagse gebeure van jou lewe aanbid het nie. As jy God waarlik aanbid in jou persoonlike verhouding met Hom, sal jy vind dat jy gereed is wanneer Hy jou wil gebruik. Dit is in die onsigbare lewe, waar God alleen kan sien, dat jy volkome fiks en gereed word. En dan, wanneer die spanning van ’n krisis aanbreek, kan God op jou reken.

Sê jy dalk: “Niemand kan verwag dat ek in my huidige omstandighede ’n geheiligde lewe moet lei nie; ek het nie nou tyd vir gebed of Bybelstudie nie; buitendien het my geleentheid om tot die stryd toe te tree nog nie aangebreek nie, maar glo my, wanneer dit kom, sal ek gereed wees”? Nee, jy sal nie. As jy nie te midde van die alledaagse aanbid nie, sal jy ook wanneer jy in God se werk betrokke raak, nie net self nutteloos wees nie, maar  ook ’n hindernis vir diegene rondom jou wees. God se opleidingsterrein, waar die wapens vir die sending gevind word, is die verborge, persoonlike aanbiddingslewe van die heilige.

Bron: My allerbeste vir Sy Hoogste deur Oswald Chamber
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

FM ·

Dankie Here.

U alleen sien en weet wat in die kinders se gedagtes leef.

Daarom gee ek hulle elkeen vir U.

Amen

Willem ·

Ek is nou in ń stryd om my verhouding met God en my kinders te red

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.