Gedagte vir die dag: Wat is empatie?

 hande-simpatie-stiltetyd.jpg

Foto: JacksonDavid/pixabay.com

“En Hy sal hulle antwoord: Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.” (Matteus 25:45 – AFR83)

Die een wonderlike gawe waarmee ons as mens geskep is, wat ons onderskei van die res van die skepping, is ons vermoë om empatie met ander te hê. Empatie is om ander in liefde en deernis te sien, hulle in die oë te kan kyk en te kan sê: “Ek sien jou.” Ek dink nie ons kan eens begin om te begryp hoe kragtig daardie woorde is en die trefkrag wat dit op die hart en siel van iemand anders het nie.

Wat kies ons om te doen wanneer ons sien iemand het seer, of daar is onreg aan ’n ander gedoen? Dalk ’n skinderstorie, dalk mag dit selfs waar wees. Oordeel? Saampraat? Wegkyk? Of kies ons om liefde te wees in daardie gebrokenheid, daardie vernedering, daardie skaamte?

Dit is wat Jesus ons leer om te doen. Ons mag dalk voel dat dit deur daardie persoon se eie toedoen is, maar wat die Woord ons leer, is dat dit liefde en goedheid is wat ons tot inkeer bring, en wat maak dat ons wil beter doen en meer wees.

Empatie is om die seer van ander baie persoonlik op te neem, want dit is presies wat dit is. Dit is persoonlik. Jesus neem dit so persoonlik op dat Hy sê hóé ons omgaan met die geringste onder ons, doen ons ook aan Hom. Dit behoort ons twee keer te laat dink aan hoe ons ander hanteer.

As Jesus dit persoonlik opneem, behoort ons dit ook persoonlik op te neem.

Moet nooit uit die oog verloor dat ons as mens baie meer dieselfde is as wat ons verskillend is. Ons is feilbaar, ons maak foute, ons misluk. Maar deur die genade van die Here kry ons tweede kanse om beter te wees, meer wys te wees die volgende keer, en in die spieël te kyk en te kan sê: “Ek is trots op wat jy reeds oorkom het.”

Kom ons wéés deernis vir ander. Kom ons skep ’n ruimte van liefde vir hulle om in te verander en te wees wie hulle geskep is om te wees.

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Linda ·

Ons is op skool geleer as jy self die ondervinding deur gemaak het, kan jy simpatiseer. Soos met die verlies van ‘n eggenoot of kind. As jy self nog nie daardeur is nie, kan jy slegs empateer met die ander persoon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.