Terug by die begin – in Noorweë

carla-kargaard

Carla Kargaard. Foto: Verskaf.

Deur Carla Kargaard

Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar, bestuurslesse is gemaak vir 17-jariges. Hulle is jonk, energiek, braaf en sien kans vir die lewe. My K-53-dae lê blou agter my, my rybewys se blink is al weggeskaaf deur my beursie. Ek hoef net elke 5 jaar te glimlag vir ’n nuwe foto en die wiele kan aanhou rol. Maar hoe gemaak as ’n 31-jarige ma van twee weer van vooraf moet begin? 

Die dame by die Noorweegse verkeersdepartement kyk neusoptrekkerig na my Suid-Afrikaanse rybewys en sê dat ek dit maar net sowel in die drom kan smyt, hier beteken dit absoluut niks. Zilch. Nada. Ek moet maar liefs vir my ’n bestuurskool in die stad gaan soek en van vooraf begin.

Ek is natuurlik teleurgesteld, maar ek skat dat dit nie só ’n groot storie kan wees nie, ek arrive alive immers al vir die afgelope 14 jaar. Toe nou nie so nie.

Die mannetjie agter die toonbank by die baie grand bestuurskool verduidelik in sy beste Engels dat ek ’n magdom modules moet deurkom. Eerstens moet daar gekyk word of ek darem weet hoe die briek en clutch werk. Daarna sal hulle my leer om eerstehulp toe te pas, hoe om in die donker te ry, wat om te doen as jy op ys gly, hoe om van een dorp na die ander te ry, hoe om ander motors verby te steek en hoe om ’n padkaart te lees. (Dit herinner my nogal aan al daai wapentjies wat my ma aan my Voortrekkerhempie moes vaswerk. “Hou koers”!) En dit alles teen ’n “skamele” bedrag van ongeveer R40 000.

Die groot dag van my eerste les breek aan. Ek het sommer vroegoggend al so ’n naar kol op my maag. Ek is tien minute vroeg en wag op een van daai klewerige leerbanke. Daar is ’n visbak vol tjoklits op die tafeltjie voor my. Normaalweg sou ek nie so ’n geleentheid laat verbygaan nie, maar vandag is ek heeltemal te gespanne om te eet.

Die mooi jong instrukteur met die six pack hou verby en gaan help ’n tienerseun. Ek sug. Dan kom ’n ouer oom uit en stap na my toe. Ek weet nie of ander vrouens ook so voel nie, maar ’n vaderfiguur wat my moet leer bestuur, maak my vreeslik op my senuwees. Dit bring al daai naelkouherinneringe wat diep in ’n mens se onderbewussyn begrawe lê, weer na vore … Ek met puisies en draadjies. My pa wat ’n denkbeeldige briek trap en sweet van sy voorkop afvee. Die wit Corolla wat by elke rooi lig stol as ek my voet van die koppelaar afhaal.

En hier staan ons weer. Veertien jaar later. Ek en ’n man wat my pa kon gewees het. Hy stel homself voor as Åge en verduidelik dat hy nie baie goed Engels kan praat nie, maar hy sal sy bes probeer. Die kar waarmee ek vandag ry, is ietwat anders as die tipiese Toyota Tazz van die Suid-Afrikaanse bestuurskole. Nee, Pappie, vandag ry ek met ’n blinknuwe BMW SUV. (Dáái soort wat jy liewers vermy as jy by die mall parkeer, want jy kan nie bekostig om so ’n kar te krap of ’n duik daarin met jou tjaloppie te maak nie.)

Nóg ’n groot verandering is dat die bestuurskool-oom ook pedale aan sy kant van die kar het, so as hy voel dinge loop skeef, kan hy gou die briek trap.

Met groot konsentrasie kon ek dit darem regkry om aan die regterkant van die pad te bly, maar toe ons die eerste sirkel nader het dinge lelik begin skeefloop. Kyk, Suid-Afrikaners en sirkels is oor die algemeen nie ’n goeie kombinasie nie. As jy ’n Babelse verwarring wil sien, gee vir die Reënboognasie ’n verkeersirkel. Sit dus ’n Suid-Afrikaner by ’n Noorweegse sirkel wat in die teenoorgestelde rigting werk, en jy het ’n ramp. Gewaarborg.

As ek nou daaraan terugdink kan ek nie regtig sê wat presies alles gebeur het nie. My brein het outomaties besluit dis beter om liefs nie enige fyner besonderhede te stoor nie.

Al wat ek kan onthou, is ’n geween en ’n gekners van tande. Die instrukteur wat onbekende (waarskynlik lelike) Noorweegse woorde rondslinger. Ek wat probeer ontsyfer wat die man sê en dan wragtag die kar verder die verkeerde rigting instuur. Die instrukteur wat wild briektrap en ’n upper class BMW wat tot stilstand ruk. Die ander motoriste wat die hele petalje aanskou het, was so ordentlik (of geskok) dat nie een eers ’n toeter gedruk het of nare simbole met hulle vingers gewys het nie.

Toe ons uiteindelik anderkant die sirkel uitry, huil ek soos ’n baba. Die arme instrukteur is doodsbleek. Hy wys ek moet parkeer dat ons ’n blaaskans kan vat. Nadat hy vir my allerhande sketse geteken het van hoe sirkels veronderstel is om te werk, sê hy vir my ek het die bestuursvernuf van ’n 17-jarige. En toe snik ek éérs. Bid jou aan, ’n 17-jarige!

Dis dan nou seker wat ’n mens sal noem, terug by die begin!

  • Carla is ’n vryskutskrywer wat saam met haar gesin in Noorweë woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Basson ·

Baie interessant dankie! Vertel ons asb meer van die lewe in Noorwee!

Nico K ·

Ek het die storie baie geniet, maar ek het gedog ‘n vrou op 31 sal dit as ‘n kompliment beskou om as 17 jarige beskou te word! Maar meer ernstig ek het regtig nie geweet ander lande erken nie ons rybewys nie.

Theresa ·

Carla – hoe heerlik het ek nou spontaan gelag en jou pittige beskrywing van hierdie petalje baie geniet! Ek dink ‘n vreemde land en al hul wette en reëls kan baie wees om te verteer, maar ja, op die ou end is dit absoluut die moeite werd. Ongelukkig is daar min van ons hier wat daar erkenning geniet (soms met rede, soms onregverdig). Maar, soos jy sê: Begin maar voor en druk deur, want jy kan! Ek is nuuskierig om te weet of jy toe jou lisensie gekry het en hoeveel probeerslae later?? Het die omie oorleef :) ? Skryf nog goedjies vir ons om te lees – lekker!

Chris ·

Carla, jou gelukkige mens. Wens ek was jy. Dit is ‘n asemrowende land om in te bly. Oslo is prentjiemooi. Die mense is mooi, vernaam die dames. Ek sal enige tyd weer terug gaan en glad nie omgee om my daar te vestig nie. Ek het die lekkerte vis (Salm “steak”) daar geeët. Die mense dra ook die mooiste klere (jasse). Ek dink in my vorige lewe was ek ‘n Viking of Noorweër.

Morne ·

Ek het ‘n baie beter plan vir jou. Ruil jou Suid Afrikaanse lisensie vir ‘n UK een en dan ruil dit vir ‘n Noorwee een. Kan miskien net werk en jou baie moeite spaar.

annamabok ·

Carlatjie, ek wens ek was daar om jou te help. Lol Hulle gaan net so swaar kry as hul n SA lisensie moet kry. Hou ons op hoogte.

Hanel ·

Carla, ek het nou so lekker gelag en terug gedink aan die dag toe jy amper in die boom vas is met my en Amanda. Sterkte met die lesse. Ek is so bly die Iere bestuur ook and die linkerkant van die pad – ek sou defentief nie petalje oorleef het nie. Dalk kan tannie Annemarie weer ‘n paar lesse kom gee. :)

Amanda ·

Hanella, ons het omtrent pret gehad saam met Carla’tjie.. Annamabok was tops en moes baie geduld gehad het om ons almal deur die toets te kon kry..

Adele ·

Ek het dit so geniet om saam met jou alles te beleef! Deel asb nog met ons, sal baie graag ook daar wou woon. Weet net nie of ek so braaf gaan wees om die bestuur aantedurf nie :-)

GAB ·

My neef bly in Denmark. Hy het SA toe terug gekom vir motorfiets lisensie. 3 weke terug. Dis te duur in Denmark. 10000 krone of R22k. Snaaks dat dit aanvaar word so.

Lienka ·

Ek het só lekker gelag! Die hele petalje in my geestesoog gesien! Skryf nog oor jou ervaringe in daardie pragtige vreemfe land.

Carla Kargaard ·

Dankie vir al die mooi kommentaar. Ek sal beslis nog stories uit die Noorde met julle deel. Die bestuurslesse gaan nog voort… en dit gaan darem al beter met die sirkels :)

Meraai ·

Het ek die storie geniet. Ek kan saam praat by die sirkels. Ons gaan hou vakansie in Amerika. Huur ‘n kar en daar trek ons weg met ‘n spoed. Verkeerde kant ry het ons vinnige baas geraak. Ons het beurte gemaak om te ry. Die slag toe dit elke keer my beurt was tref ek mos elke verkeersirkel in daai pad. My grootste vrees. Jou brein se een ding, maar jou gewoonte wil iets anders. Nagmerie vir my gewees. By die eerste een was daar gelukkig ‘n kar voor my en my vriendin vra my toe wat gaan jy maak, maklik volg die kar voor my. So ja verkeerde kant van die pad ry was ‘n groot uitdaging vir my en ek het veilig om ‘n sirkel gery sonder enige problem.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.