Vyfduisend kilometer – met ʼn kano

hotensleben-verwerk

Hötensleben is ’n kleine dorpie met tans sowat 4 000 inwoners en is letterlik teenaan die destydse Berlynse Muur geleë. Foto: Verskaf.

Deur Annami Simon

Dis al byna Maart en ek wil huis skoonmaak. Ek is agter met my nuwejaarsvoornemens.

So gewaar ek ’n paar weke gelede vier groterige bokse in my garage – onuitgepakte trekgoed wat mens mos maar geneig is om eerder hoër en dieper weg te druk as om dit te sorteer, weg te pak of weg te gooi. Ek klim op my liggewig staalleertjie (wat ’n storie van sy eie het) en haal die voorste twee bokse van die dakrak af. Binne-in is dik lêers en ’n paar foto’s. My oorlede man s’n. Goed wat ek uitgestel het om deur te gaan omdat my gemoed verlede jaar nog te maklik gebloei het.

Ek gaan maak vir my koffie en dra die bokse studeerkamer toe waar ek alles op die mat kan uitpak sonder dat iemand my pla.

Die lêers is almal in sy netjiese handskrif gemerk en ek haal een ná die ander uit: Haus. Persönlich. Briefen. Adressen. Kunstschmiedeeisen[1]. Hötensleben. Ek maak laasgenoemde oop – Hötensleben was sy geboorte- en tuisdorp in die destydse Oos-Duitsland. Hoewel ek baie boeke asook ’n afsonderlike album met foto’s en uitknipsels oor hierdie pragtige dorpie het, het daar met die trekkery ’n paar goed soek geraak. Toe ek op ’n vergeelde koerantuitknipsel afkom, weet ek ek het uiteindelik die bewyse ter stawing van ’n uitsonderlike verhaal…

Hötensleben is ’n kleine dorpie met tans sowat 4 000 inwoners en is letterlik teenaan die destydse Berlynse Muur geleë. Terloops, dit is die enigste plek in Duitsland waar daar nog ’n gedeelte van die oorspronklike muur, “mynveld” en wagtorings staan. Maar later meer hieroor.

Ek stryk die kreukels van die koerantberig met my hande uit en lees die artikel wat na ’n uitsonderlike gebeurtenis in Hötensleben onder die afdeling “Aus der Heimatgeschichte” verwys:

Op 25 Mei 1932 was daar groot opgewondenheid in dié dorpie oor ’n berig in die Volksstimme, ‘n streekskoerant. Foto: Verskaf.

Op 25 Mei 1932 was daar groot opgewondenheid in dié dorpie oor ’n berig in die Volksstimme[2]: Twee avontuurlustige inwoners, Paul Simon (’n kabinetmaker) en sy vriend Wilhelm Herzberg, ’n bakker, het ’n stewige kanoboot met een seil (met die naam van Bobbi) gebou en sou die daaropvolgende Maandag hul vaart na Wene en Boedapest aanpak.

Nou hoe beland hierdie stukkie Oos-Duitse geskiedenis in my Suid-Afrikaanse huis, mag julle vra. Eenvoudig. Paul Simon, die kabinetmaker (wat op ’n jeugdige ouderdom in die Tweede Wêreldoorlog gesneuwel het), was die pa van my oorlede man, Wolfgang Simon. En die koerantuitknipsels en meegaande poskaart wat nou in my besit is, is deur die jare deur sy pa se skoonsuster, Frau Erika Simon (wat tot haar dood in Hötensleben gebly het), veilig bewaar.

Ná die afbreek van die Berlynse Muur, kon Wolfgang vir die eerste keer in 35 jaar Oos-Duitsland en spesifiek Hötensleben weer besoek. Hy het talle koerantuitknipsels en foto’s van sy dorp se geskiedenis teruggebring Suid-Afrika toe.

Ná die afbreek van die Berlynse Muur, kon Wolfgang vir die eerste keer in 35 jaar Oos-Duitsland en spesifiek Hötensleben weer besoek. Hy het talle koerantuitknipsels en foto’s van sy dorp se geskiedenis teruggebring Suid-Afrika toe. Foto: Verskaf.

Maar laat ek verder vertel. Aanvanklik sou Paul Simon en Wilhelm Herzberg die Aue-rivier[3] – wat tussen 1961 en 1989 deel was van die gewraakte grens tussen Wes- en Oos-Duitsland en wat teenaan die dorp verbyvloei – as beginpunt gebruik, maar die rivier is nie baie groot nie en het ook heelwat kronkels en draaie wat probleme vir die lang kano kon skep.

Tante Erika (regs) staan op die brug oor die klein Aue-rivier. In die agtergrond, links, is daar nog ʼn stuk van die Berlynse Muur te sien. Foto: Verskaf.

Die kano is dus na Jerxheim geneem en in die Bruchgraben by Kybitzdamm[4] te water gelaat. Van daar is hulle via die Oker- en Aller-rivier na Hanover[5] en toe met ’n kanaal tot in die Rynrivier na Heidelberg[6] waar dié twee Weltenbummler[7] (soos hulle in Hötensleben bekendgestaan het) ’n wyle gerus het.

Daarna is hulle met die Main-Donau-kanaal na Wene in Oostenryk waar hulle weer vertoef het en heel waarskynlik die pragtige stad eers verken het voordat hulle deur Slowakye tot in Boedapest in Hongarye gevaar het.

Gedurende die reis het hulle poskaarte, wat hulle voor hul heldhaftige vaart laat maak het, verkoop om darem ’n paar Pfennigs in hul sak te hê. Ek kan my voorstel hoe die storie van hierdie twee avonturiers hulle van dorp tot dorp vooruitgeloop het!

En toe, uiteindelik, op 22 Augustus 1932, vroeg die oggend, het twee bruingebrande “gestaltes” (volgens die berig) in Hötensleben aangekom. Hulle moes hul roeiboot die keer agter hulle aansleep, aangesien die Aue-rivier se loop daardie dag heeltemal te vlak was om daarop te vaar.

Die twee Weltenbummler is onder luide toejuiging van al wat leef en beef terugverwelkom. Vir weke daarna het die inwoners oor niks anders gepraat as dié twee avonturiers se merkwaardige kanovaart van Hötensleben, Duitsland, tot in Boedapest, Hongarye, nie – ʼn afstand van meer as 5 000 km! Paul en Wilhelm was ook nie min trots dat hul selfgeboude kanoboot met net een seil die storms en hindernisse gedurende hul lang vaart deur byna die helfte van Europa deurstaan het nie.

Die huis in Steinweg, Hötensleben, bestaan nog. Daar is later verbeteringe aangebring, soos die twee dakvensters. Let op die keistene… vandaar die naam van die straat. Foto: Verskaf.

Dié geskiedkundige kanoboot het tot in 1997 onder in die kelder van Tante Erika se huis in Steinweg, (Steenstraat) Hötensleben, “voor anker gelê”, waarna sy toestemming gegee het om dit aan die dorp te skenk waar dit ’n ereplek sou kry vir inwoners en toeriste om te bewonder.

Waar dit vandag presies staan, weet ek nie, maar Hötensleben is beslis (weer) op my kluitklaplysie.

  • Opgedra aan my oorlede man, Wolfgang Simon, en skoonvader, Paul Simon, wat ek nooit geken het nie.

Bo is ‘n foto van Paul Simon net voordat hy oorlog toe is en onder is een van die talle poskaarte wat die “wêreldreisigers” vir sakgeld verkoop het. Foto: Verskaf.

Voetnotas:

[1] Wolfgang Simon het, onder meer, kunssmeewerk gedoen. Van sy pragtige handewerk is in Franschhoek te sien.

[2] ’n Streekskoerant vir Magdeburg, Duitsland, en omliggende dorpe.

[3] ’n Plaashuis in Hötensleben was aan die westekant van die Aue-rivier en is met die oprigting van die muur tussen Oos- en Wes-Duitsland totaal afgesny van die dorp en sy mense. As gevolg hiervan het die plaasbewoners egter die gevreesde kommunistiese DDR-regering vrysgespring.

[4] Nou bekend as Kiebitzdamm

[5] Hoofstad van die Noord-Duitse deelstaat Neder-Sakse

[6] Stad in die Duitse deelstaat Baden-Württemberg.

[7] Wêreldreisigers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico K ·

Baie interessant. Die meeste van ons se oupas en oumas het stories gehad wat betrekking het op ‘n tydperk in die geskiedenis waarvan niemand meer weet nie. Maar toe ons jonk was het ons nie daai stories belangrik geag om neer te skryf nie en nou is hulle nie meer daar om al die feite te kry nie.

Stephan de S ·

Dankie vir die kosbare meedeling van herinneringe uit n wêreld waarvan ons so min weet. Ek kan die hart lees vd skrywer vd artikel……pragtig. Sterkte vir die pad vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.