Luister: kykNET Buite Ekspo heerlike uitstappie vir hele gesin

Die kykNET Buite Ekspo beloof hope pret vir die hele gesin. (Foto: Verskaf)

Die kykNET Buite Ekspo is op pad Limpopo toe en beloof om die perfekte uitstappie vir die hele gesin te wees.

Ná ʼn uiters suksesvolle Wes-Kaapse ekspo in Maart vanjaar, wat deur meer as 22 000 feesgangers besoek is, word dié ekspo vanjaar ook van 24 tot 26 Junie by die Sondela-natuurreservaat net buite Bela-Bela aangebied.

Van die kamp- en natuurliefhebbers en avontuurlustiges tot die kunssinniges en kleingoed, die ekspo bied hope pret vir elke sak, smaak en gesinslid.

Met talle kos- en verversingstalletjies asook vermaaklikheid vir oud en jonk, sal almal iets hê om te doen, eet of geniet.

Die ekspo vind boonop plaas in ʼn veilige plaasatmosfeer sowat 80 km buite Pretoria en hoewel baie aktiwiteite aangebied word, bly die fokus natuurlik op die buitelewe-uitstallings.

Selfs al is kampeer nie deel van jou doenlysie nie, sal dié opwindende ekspo se wye verskeidenheid uitstallers selfs die grootste stadsjapie se buitelugbelangstelling prikkel.

Marius Opperman, organiseerder van dié geleentheid, het met Maroela Media gesels oor die heerlike en veelsydige aktiwiteite en uitstallers waarna besoekers kan uitsien.

Die ekspo voldoen 100% aan die Covid-19-riglyne soos deur die regering voorgeskryf. Ekspo-gangers sal dus óf hul inentingsertifikaat (fisiek of digitaal) óf ‘n negatiewe toets wat nie ouer as 72 uur is nie by die ingang moet toon. Daar sal egter ook toetsstasies op die perseel wees waar vinnige antigeen-toetse gedoen kan word teen R150 elk. Dié reëls geld nie vir kinders onder die ouderdom van 12 nie.

Wen

Drie gelukkige gesinne (van vier lede elk) staan die kans om dagbesoekerskaartjies vir die kykNET Buite Ekspo te wen. Die kompetisie sluit 20 Junie om middernag en die wenners sal op 21 Junie aangekondig en per e-pos of telefonies in kennis gestel word.

Bepalings en voorwaardes:

  • Deelnemers word lukraak as wenners aangewys.
  • Die prys sluit slegs toegang tot die ekspo in, wenners is vir hul eie reis- en verblyfkoste verantwoordelik.
  • Die beoordelaars se besluit is finaal en geen korrespondensie sal gevoer word nie.
  • Die pryse kan nie vir kontant geruil word nie.
  • Maroela Media mag met deelnemers kontak maak vir vrywillige ondersteuning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.