Soorte resepte:

Aanlyn winkel gee Stellenbosch-wynstreek ʼn hupstoot

Die Simon-wynemporium word in samewerking met Stellenbosch Wynroetes aangebied. (Foto: Verskaf)

Liefhebbers van die Stellenbosch-wynstreek kan nou van oor die wêreld heen sowat 145 topwyne van meer as 70 wynkelders aanlyn en teen proelokaalpryse op die Simon Wyn Emporium koop.

Dié wynemporium, wat in samewerking met Stellenbosch Wynroetes aangebied word, is eksklusief aan etikette van Wyn van Oorsprong Stellenbosch toegewy, wat dit die eerste in sy soort maak.

Plaaslike wynentoesiaste kan die “huis” van die Simon-wynemporium in die historiese De Warenmarkt in Stellenbosch besoek. Daar is proeë volgens kultivars en temas groepeer en sommeliers is beskikbaar om inligting te gee, of digitale proenotas te verskaf.

“Ons is opgewonde om hierdie unieke wynervaring aan wynliefhebbers reg oor die wêreld te bring. Of jy in Kaapstad of Kioto woon, het jy nou op een plek toegang tot die beste Stellenbosch‑wyne,” sê Daniël Kriel, mede-eienaar van De Warenmarkt.

De Warenmarkt het sedert sy opening in 2015 Stellenbosch Wyn van Oorsprong ondersteun. “Ons is trots daarop dat ons die eerste Suid-Afrikaanse eetplek met ʼn eksklusiewe lys vir Stellenbosch-wyne gehad het. Die fokus op die beste en bekroonde landgoedere in en om die dorp.

“Die Simon-wynemporium is ʼn natuurlike uitvloeisel van ons jarelange verbintenis met Stellenbosch Wynroetes,” sê Kriel verder.

Boonop sal proeë in die wynmakers se eie kelders aangebied word, en De Warenmarkt sal voortgaan om die kos-en-wyn-pasmaats aan te bied, wat ongelooflik gewild is onder kos-en- wynliefhebbers.

Volgens Mike Ratcliffe, voorsitter van die Stellenbosch Wynroetes, die streek se amptelike bemarkingsliggaam wat Suid-Afrika se eerste wynroete verteenwoordig, strek Stellenbosch se wyngeskiedenis oor ʼn tydperk van 50 jaar waar plaaslike wyne aan gesoute wyndrinkers én potensiële verbruikers voorgestel word.

“Ons is besonder trots op hierdie mylpaal. Die Simon-wynemporium sit nie net hierdie tradisie voort nie, maar ook die tradisie van samewerking, wat nog altyd deel van die sukses van Stellenbosch‑wyne was.”

Wat bied die Simon-wynemporium?

ʼn Komitee wat uit wynkenners bestaan, het die portefeulje noukeurig saamgestel sodat die room van die Stellenbosch-streek se wyne en kultivars ten beste vertoon word. Wynliefhebbers wat aanlyn bestel, sal dieselfde pryse as by die wynkelders se proelokale betaal en die versending word direk van die wynplase af gedoen.

Al vyf sub-roetes van die Stellenbosch Wynland word verteenwoordig: Groter Simonsberg, Stellenbosch‑berg, Stellenbosch-vallei, Helderberg en Bottelary‑heuwels. Noukeurige proenotas is vir elke wyn saamgestel, asook inligting oor die wynlandgoed en onderskeie kultivars, en hulp met kos-pasmaats.

Die lys sluit onder meer die kultivars sauvignon blanc, chenin blanc, chardonnay, cabernet sauvignon, pinotage en shiraz, asook rooiversnitte in. Dit bevat ook “ou wingerd”-wyne wat deur die Old Vine Project verteenwoordig word, sowel as ʼn versameling van die streek se ikoniese wyne.

Vir die wynkenners wat ʼn spesifieke kultivar verkies, maar verskillende wynkelders se aanbiedinge wil vergelyk, het die paneel ʼn boks van ses wyne saamgestel. Kopers kan ook hul eie ses-bottel-boks uit die Simon-wynemporium se portefeulje saamstel, wat uit ʼn spesifieke kultivar uit die vyf sub-roetes, óf ’n mengsel van verskillende wynkelders bestaan.

Bo en behalwe die uitgebreide Simon-wynemporium-portefeulje is daar ook raar, ouer wyne op die lys, wat meestal onbekombaar is. Hierdie uitmuntende wyne kom gewoonlik direk van die wynmakers se kelders en is eksklusief aan klante van dié wynemporium beskikbaar.

Die Simon Wyn Emporium by De Warenmarkt is van Maandag tot Saterdag van 11:00 tot 18:00 en Sondag van 11:00 tot 15:00 oop. Besoek www.simonwineemporium.co.za of kontak Stellenbosch Wynroetes by 021 886 4310 vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nommer 7 ·

“Proelokaalpryse” is die duurste prys wat vir wyn gevra word, hoekom dan daarmee spog? Alle wyne, sonder uitsondering, is aansienlik koopkoper by die groot kettingwinkels. Wynkelders kan net sowel hul eie wyn by kettingwinkels gaan koop, en dit dan teen ‘n wins in hul eie kelder verkoop!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.