Soorte resepte:

Clifton-strande inspireer nuwe SA jenewer

(Foto: Clifton Gin)

Clifton Gin, ʼn nuwe jenewer geskep deur die Suid-Afrikaans gebore Silvana Bottega, het die pragtige Clifton-strande, die Atlantiese Oseaan en die warm Kaapse aande as inspirasie.

Bottega was die afgelope drie jaar aan die hoof van bedryf van die bekroonde Idiom Wines & Restaurant in Stellenbosch.

Sy het ook in vennootskap met Pernod Ricard ’n vonkelwynkroeg in Johannesburg geopen en aan verskeie projekte vir die groep gewerk. Haar passie is egter sensoriese mengsels wat wissel van wyn tot jenewer; van parfuum tot sjokolade met blom-infusies.

Sy het in Parys, Frankryk, ʼn kursus voltooi oor die kuns van parfuum en daarna met botaniese elemente begin eksperimenteer.

“Ek was nog altyd gefassineer deur die nuanse van geur; dit is deel van elkeen wat ’n ware passie vir wyn en spiritualieë het,” sê sy.

“Toe ek my eie jenewer wou ontwikkel, het ek eers die botaniese komponente in hul suiwer vorm ontgin en toe noukeurig die hoofbestanddele bepaal.”

Bottega sê sy en Kobus Gelderblom, wat die meester distilleerder van hierdie jenewer is, het geëksperimenteer met geure soos seewier, fynbos en tee om die perfekte geur te kry.

“Ons het gespeel tot ons die finale samestelling gevind het. Wat ons albei oortuig het, is ’n produk wat die tydtoets sou deurstaan, maar terselfdertyd ’n sagtheid én ʼn verfrissende karakter het.”

Daar is twee jenewers wat pas in hierdie reeks bekendgestel is: Clifton 1 en Clifton 2.

(Foto: Clifton Gin)

“Die noukeurig gemaakte jenewer eggo die genommerde Clifton-strande, wat die Atlantiese kus omvou. Albei jenewers het nog voor die bekendstelling goue medaljes verower op die SA Craft Gin-prysgeleentheid.”

Bottega vertel sy is ʼn regte seekind en dat sy haar gelukkigste tye op ʼn strand of by die see gehad het, daarom is haar jenewer deur die see geïnspireer.

“Clifton is vir my die vergestalting van die gees van Kaapstad: die beeldskone strande en die see waarvoor ek lief is en wat ons bind. Dis oor herinneringe van jolige, sonnige dae in bikini’s en warm aande in pragtige syrokke. Die jenewer wat ons geskep het, is vloeibare sonskyn in elke slukkie.”

Sy stel voor dat Clifton 1 op ys gedrink word. Dit is gegeur met lemoenskil, koljandersaad, suurlemoenskil en kardemom. Kamille- en heuningbostee asook blomgeure soos laventel maak hierdie jenewer uniek.

Clifton 2 is uiters mengbaar en kan maklik in skemerkelkies gemeng word. Mariene en fynbosgeure word uitgelig deur komkommer en boegoe. Hierdie skoon en klassieke jenewer het mineraal- en mentolgeure.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.