Soorte resepte:

Resep: Gekruide mieliepoffertjies

Gekruide mieliepoffertjies. (Foto: Braaigeregte/Lapa Uitgewers)

Hierdie mieliegereg is die perfekte bykos vir ’n herfsbraai.

Lewer ongeveer 30 poffertjies.

Bestanddele

  • 2 heel pitmielies (rou)
  • 15 ml gekapte vars koljanderblare of pietersielie
  • 50 ml diagonaal gesnipperde grasui
  • 1 klein vars rooi brandrissie, ontpit en fyngekap
  • 1 eier
  • 5 ml fyn komyn
  • 1 ml fyn koljander
  • 3 ml sout
  • varsgemaalde swartpeper
  • 250 ml koekmeel
  • 5 ml bakpoeier
  • ± 50 ml water
  • sonneblomolie vir braai
  • soet of skerp brandrissiesous

Metode

  1. Hou die mielies oor ‘n bakkie en sny die mieliepitte met ‘n skerp mes van die stronke af. Krap die kante van die mieliestronke met die mes om nog van die sap in die bak te laat drup.
  2. Voeg die gekapte koljanderblare of pietersielie, grasui, brandrissie, komyn, koljander, sout en swartpeper by, asook die meel en bakpoeier en meng terwyl genoeg water bygevoeg word om ‘n ferm beslag te verkry. Laat die beslag ‘n paar minute lank rus terwyl die olie verhit word.
  3. Giet olie 5 cm diep in ‘n middelslag-swaarboomkastrol. Verhit die olie tot matig warm en drup opgehoopte teelepelsvol van die beslag in die olie. Braai ongeveer 1½ minuut lank aan ‘n kant of tot gepof, liggoudbruin en deurgaar indien dit met ‘n metaalpen getoets word. Dreineer op kombuispapier. Sit warm voor met ‘n bakkie skerp of soet brandrissiesous (of ‘n mengsel van die twee) as doopsous.

Bron: Braaigeregte
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.