Soorte resepte:

Die ding van kos of op lughawes, vliegtuie

Deur Gerhardus Geldenhuis

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

“Jou suinige bliksem”, ʼn kyk wat ʼn effense bitter smaak in my laaste druppel espresso gelos het. In elk geval ek is seker dit is wat die kelnerin gedink het toe sy my strokie gevat het. Ek het net gevoel ʼn verpligte 18%-diensfooi ontneem my van my reg om te kan kommentaar lewer op die gehalte van die kos en die diens wat ek ontvang het.

Nou nie dat ek daarvoor betaal nie, die werk betaal, en my werkskredietkaart het ʼn limiet op wat my toelaat om ʼn eiland en ten minste ʼn hangmat te koop en dalk drank vir ʼn week met dit wat oorbly. So geld was nie die probleem nie, maar dit is die beginsel.

Ek is seker sy sou nie omgegee het as dit my eie geld was nie, maar ons swerwendes het mos ʼn aura aan ons; die dik wangetjies van te veel lekker kos of die effense boep – hoe dit ook al sy, sy het geweet dit is nie my geld nie. Ek laat dit ook nie daar nie en stuur ʼn e-pos vir die bestuurder waarin ek my misnoeë aan hom kommunikeer oor die 18%, sy e-pos het my nou nie juis opgewonde gehad nie.

Sy vertoë is dat daar baie internasionale reisigers verbykom en baie van hulle betaal glad nie ʼn fooi nie. Hulle is seker ook konsultante soos sommiges, en daarom vra hy uit die staanspoor 18%. Ek voel sommer dadelik meer geregverdig in my weiering met net ʼn knapsie ironie.

Die diensfooi is maar altyd moeilik en die spesifieke restaurant was op Atlanta se lughawe. Die VSA, oor die algemeen, verwag tussen 15% en 20% en die grootste rede is dat dit ʼn groter deel van hulle salarisse uitmaak as vir personeel in Europa in die algemeen. So jou gebrek aan ʼn fooi is ʼn gebrek aan brood op die tafel. Daar is seer sekerlik ʼn debat te voer oor die regverdigheid daarvan om die werknemer se verantwoordelikheid op die kliënt af te dwing, maar ek los dit vir ʼn ander dag. Ek hou dit wel ingedagte wanneer ek betaal of dit nou met my werks- of persoonlike kredietkaart is.

Foto bloot ter illustrasie ( Oskar Kadaksoo/Unsplash)

In die einste Atlanta-restaurant voel ek nie te honger nie en lus vir iets lig. My Suid-Afrikaanse bloed loop sterk, maar ek dink is ʼn bietjie verwater deur die jare weg uit die land uit en dus bestel ek nie meer ʼn biefstuk met tjips met elke geleentheid nie. Ek bestel toe gebraaide bokkaas met ʼn heuning- en roosmarynsousie wat saam met brood kom. Heerlik! Die geurigste kaas, nie so sterk dat jy kakiebos proe nie maar bok genoeg dat jy weet die bok het ʼn paar keer ontsnap uit sy hok uit. Die heuningsousie is ongelooflik, veral as jy die stukkies brood daarin laat week met die effense bitter wat die roosmaryn bring wat eintlik net help om die soetigheid nog meer te kontrasteer.

Die pasta wat ek bestel het as ʼn natuurlike opvolger vir die kaas gedien en was die eintlike rede oor my gebrek aan ʼn bykomende fooi bo en behalwe die verpligte 18%. Die pappardelle-pasta, iets wat ek nie van te vore geëet het nie, is omtrent die helfte so breed soos ʼn lasagne-strook en dubbel so lank.

Die probleem met myne was dat dit in die pot vergeet is en so sag gekook was soos ʼn opgebruikte babakombers. Dit is toe buite vergeet, in ʼn koue bord, om ietwat uit te droog soos ʼn babakombers met ʼn harde kol, van daai keer wat jy vergeet het om dit uit te was.

Die pasta kom saam met varkrepies en soetrissie, so wanneer jy dit op die spyskaart sien dan voel jy sommer klaar hoe water jou mond. Dit het die teleurstelling net soveel groter gemaak. Geen moeite is gemaak met die bediening nie en dit lyk of ek net 2,5 opskeplepels uit ʼn groot weermagpot gekry het van die dag se dis. Nie eers ʼn ou blaartjie, gerasperde kasie of ʼn bietjie paprika op die bord se rand vir kleur nie.

Ek wurg toe maar die pastakomberse in en pik na die varkvleis maar nou nie met die gewone geesdrif nie, en so halfpad deur is ek toe in elke geval versadig van ʼn oormaat kaas en brood en gee toe maar die stryd gewonne. Op hierdie stadium van die geveg besef ek my vlug is oor ʼn paar uur en ek kry ʼn vliegtuigmaaltyd wat ek moet eet. Ek het ten duurste vir die kaartjie betaal (nee ek vlieg ook saam met die massas), wel die werk het betaal, so ek moet elke bietjie waarde uit die kaartjie kry.

Gerhardus Geldenhuis (Foto verskaf)

Dit is toe nog vroegmiddag en ek moet nog wakker wees volgens my nuwe tydsone, ek skuif altyd oor na die nuwe tydsone as ek eers op die lughawe kom dan is dit effe makliker om aan te pas wanneer jy by jou bestemming land. Ek bestel dus ʼn dubbel espresso en dit is toe so lekker met die bietjie room en suiker wat ek bymeng dat ek glad nie lus voel om te stry oor die 18% nie.

Met my laaste vlug het my vliegtuig-status verhoog wat beteken ek kon nou eerste saam met al die ryk mense op die vliegtuig klim. Dit het nie baie voordele nie, maar dis lekker want jy kry spasie om jou tas te bêre, jy sit nie vas agter ʼn tannie of oom wat vir die eerste keer op ʼn vliegtuig klim en skielik vergeet het hoe om te tel of lees nie, en jy kan die badkamer gebruik terwyl dit nog mooi skoon is.

Ons is gelukkig gou op pad en verbasend genoeg het die brood êrens in ʼn hoekie gaan wegkruip en ek is nogal honger. Die keuse is pasta of hoender. Ek besluit op hoender, want ek sien beslis nie kans vir nog ʼn aanslag op my sintuie nie. Net jammer ek sit in die lugwaardin se blindekol. Ek kyk vir haar, probeer wakker lyk, kyk om na haar druk my knoppie sodat sy moet aandag skenk, maar niks nie.

Hierdie hoender gaan ek eet ek kan nie met so leë kol gaan slaap nie, veral nie met die bedrag wat dit kos om die kol te vul nie. Ek moes toe noodgedwonge opstaan en my kos gaan haal, nie dat hulle te jammer gelyk het om van my te vergeet nie. Ek vermoed hulle het dalk met my kelnerin gepraat of ook die dik wangetjies gesien en besluit om aksie te neem!

  • Gerhardus is woonagtig in Engeland met sy hart in Suid-Afrika. Hy berei gereeld groot etes voor vir die kerk, bied kosmaakwerkwinkels aan by sy huis, soos hoe om jou eie miso te maak, en gaan pluk oor elke jaar meer blomme en vrugte as wat hy ooit self kan opeet. So deel hy gereeld konfyt, stroop en ander lekker dinge aan vriende uit. Hy het leer brood bak in ʼn Duitse bakkery en is aktief by die Oxford Food Symposium on Food & Cookery betrokke. Stuur vir Gerhardus ʼn e-pos by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vrijburger ·

Nou raak jy ‘n teer puntjie aan, spesifiek in die VSA ruk die fooitjie ‘entitlement’ ding hand uit. (Daar is selfs kitskos restaurante waar jy self in die ry staan en wag vir jou kos, wat verpligte fooitjies hef.)

‘n Ander een wat my grief – is die badkamer skoonmakers op ORT lughawe by die internasionale kant wat jou inwag met “welcome in my office” en jou dan verder teister vir ‘n fooitjie.

Manie ·

Restaurante wat nie hulle kelners genoeg kan betaal nie en op kelner fooitjies staatmaak as gedeeltelike salaris, kan maar gerus toemaak. My beginsel oor fooitjies werk so: Goeie diens sonder om my aanhoudend te pla, ‘n skoon tafel, goed voorbereide warm kos en skoon glase wat nie net uitgespoel is en nog papnat by my aankom nie, daarvoor gee ek maklik 15% van die rekening bedrag. Vir swak diens, koue kos en vuil nat glase gee ek absoluut zero en ek maak dit rustig maar baie duidelik hoekom. Uiteet vir my is ‘n spesiale geleentheid wat spesiale aandag vereis. Ons in SA aanvaar te maklik swak of gemiddelde diens en ek sê basta daarmee.

Olive ·

Selfde met KFC. Plaas jou bestelling, lekker honger en sien uit daarna. Dan kom dit “how many kids would you like to feed today?” Rerig! ek het my eie kids om te voer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.